SABC TV het Vrydag 23 Desember ‘n berig gebeeldsend waarin melding gemaak is dat die Magalies Waterraad waterbeperkings vir die Thabazimbi Munisipaliteit ingestel het aangesien die munisipaliteit in gebreke was om die waterrekening, wat R35 miljoen beloop, te vereffen.
Volgens die berig is alle inwoners sowel as besighede hard getref deur hierdie waterbeperkings en was dit ‘n sombere inleiding tot die feesgety.
Volgens die raad se Speaker, dr Bertie Joubert, is hierdie skuld geërf van die vorige ANC beheerde munisipaliteit. Die huidige raad probeer alles in hul vermoë om die situasie op te los. Tans word die dorp, sedert die munisipale verkiesing sowat vier maande gelede, deur ‘n DA alliansie met ander partye bestuur.
Vir tyd en wyl is water op ‘n baie beperkte basis beskikbaar. Hierdie water sal aangevul word uit die beskikbare boorgate en die reservoirs wat intussen herstel is, alles deel van ‘n proses wat deur Kumba gefinansier is maar waar die vorige raad in gebreke was om die onderhoudwerk behoorlik te voltooi.
Joubert het aan die SABC se TV span gesê dat die dorp slegs 4,5 megaliter ontvang teenoor die 7 megaliter wat dit veronderstel is om vanaf Magalies Water af te kry. In ‘n stadium was die voorsiening so laag as 2,3 megaliter per dag.
Samesprekings is vanaf vandag, Dinsdag 27 Desember, met die Magalies Water verskaffers gevoer om ‘n werkbare oplossing vir die situasie te bewerkstellig. Raadslid Joubert het voorts gesê dat gedurende die afgelope maand, die munisipaliteit reeds R3 miljoen vir water oorbetaal het.
“Die munisipaliteit het op 3 Desember die eerste betaling in sewe maande vir water gemaak en die munisipaliteit is nou reeds in ‘n posisie om R1 miljoen per maand vanaf volgende jaar te betaal tot op die stadium dat die voorafbetaalde meters geïnstalleer is. Teen die einde van Maart sal die Munisipaliteit R20 miljoen inkomste maandeliks kan genereer. Huidig funksioneer die Thabazimbi Munisipaliteit met ‘n tekort van R8 miljoen per maand”, het Joubert aan SABC TV gesê.
Die huidige munisipale raad het die munisipaliteit geërf met ‘n skuldlas van R400 miljoen wat deur die vorige ANC beheerde raad opgebou is. Boonop moes hulle ‘n week wag nadat hulle veronderstel was om die leisels oor te neem, voordat hulle toegang tot die munisipale geboue kon verkry. Voordat hulle die gebou kon betree, moes hulle ook toesien hoe die balju beslag lê op alle kantoormeubels en rekenaars.
