President Jacob Zuma sê dat hy genoeg gehad het van Thuli Madonsela se knaende uitbarstings en verklarings aangaande hom en sy regering. Zuma is duidelik ontsteld oor die voormalige Openbare Beskermer se openbare uitlatings en meen dat sy nou moet terugstaan en ophou om hom aan te vat.
Hy het verder gesê dat sy reeds haar pos aan haar opvolger, Busisiwe Mkhewane, oorhandig het en moet nou ophou om haar met regeringsake te bemoei. Hy het haar ook veroordeel oor die aktiewe rol wat sy speel met die openbaarmaking van die verslag aangaande die staatskapery en daarop aangedring dat sy geen rol te speel het in hoe die verslag verder hanteer word nie.
Madonsela se optrede dui volgens hom, op ‘n gebrek aan etiek, vertroue en die beskerming van inligting wat sy tydens haar tyd as Openbare Beskermer ingewin het. Dit, sê hy, hou verskeie gevaarlike implikasies in.
Madonsela het Woensdag verskeie van haar kritici geskok toe sy erken het dat sy die een was wat die opname van die onderhoud wat sy met President Zuma gevoer het, bekend gemaak het. Volgens haar het sy dit gedoen om aan die wêreld te wys dat sy genoeg tyd aan President Zuma gegee het om op die vrae aangaande staatskaping te reageer. Volgens Zuma het Madonsela hom nie genoeg tyd gegee om deur die vrae te gaan nie.
Die vier-uur lange opname het gedraai om Zuma se rol in die beweerde staatskaping deur die Gupta familie.

