Oystergate: Moet die armes dan maar koek eet, minister?

SolidariteitDit is met ’n swaar gemoed dat Solidariteit Helpende Hand kennis geneem het van u verblyf in die Oyster Box in KwaZulu-Natal. As ’n gemeenskapsorganisasie wat hom toewy aan die verligting, verbreking en voorkoming van armoede, is ons geskok en baie verbaas oor hoe dit moontlik was vir die minister van maatskaplike ontwikkeling, die bewaarder van maatskaplike opheffing en toelaes vir die armes, om R11 000 in net een nag te spandeer. Ons hele kantoor verwys tereg daarna “Oystergate”.

Dit is alombekend dat u ’n voorliefde vir dekadensie het. Dit herinner sterk aan Marie-Antoinette, die destydse koningin van Frankryk en hertogin van Oostenryk, wat ook bekend was om haar uitspattige lewenstyl en haar kilheid teenoor die swaarkry van haar land se mense. Sy het na bewering van die armes gesê: “Laat hulle koek eet,” toe sy kommentaar gelewer het op hul nood vir brood. Sy word in die geskiedenis onthou as die koningin wat haar nie kon vereenselwig met die lot van haar mense nie, die koningin wat nie kon onderskei tussen brood en koek nie. Minister, ons wonder of u, terwyl u die luuksheid geniet het wat Oystergate bied, sensitief was vir die feit dat u belastingbetalers se geld spandeer op ’n onverantwoordelike en aanstootlike wyse?
Ons staan verbaas oor u reaksie op hierdie berigte, agbare minister. Dit is inderdaad ’n hartseer dag as die minister wat verantwoordelik is vir die toekenning van maatskaplike toelae dit duidelik maak dat sy geen agting vir die armes het nie – dieselfde armes wat u meen van so min as R753 per maand moet leef. U het dan 14 maande se werkloosheidtoelae in een aand bestee!

Ons is verheug daaroor dat u die uitdaging aanvaar het om te wys hoe armes met R753 vir ’n hele maand moet klaarkom. Miskien sal u in staat wees om aan die 15 miljoen mense wat welsynstoelae ontvang, te kan wys hoe om dit reg te kry.
Aangesien u egter soveel tyd by die Oyster Box deurbring, was ek bang dat u nie meer weet wat basiese noodsaaklike middele kos nie. Daarom gee ons u graag ’n paar wenke oor wat die armste Suid-Afrikaners benodig deur ’n paar van Helpende Hand se inisiatiewe aan u te noem wat armoede aanspreek.

Die koste van een nag in die Oyster Box kon bestee word om:
• 60 arm kleuters vir ’n hele maand van ’n warm maaltyd te voorsien;
• 18 meisies vir ’n hele jaar te help met die verskaffing van sanitêre produkte; en
• 10 bejaardes per maand te ondersteun en vir ’n maand lank te versorg.

Minister, ons weet hoe om met min hulpbronne ’n verskil te maak. Ons vermaan u oor u blatante miskenning van die armes. Kan ’n staatsamptenaar meer onbesonne en sorgeloos met openbare hulpbronne omgaan? Dit blyk dat u baie in gemeen het met Marie-Antoinette. Sou u raad ook dan wees dat die armes koek moet eet terwyl hulle nie eens brood kan bekostig nie, agbare minister? Ons vrees dat dit buite u vermoë lê om die behoeftes van arm Suid-Afrikaners te verstaan.

Minister, ons daag u hiermee uit om die telkaart en stawende dokumente wat vereis word vir die verkryging van dienste en goedere, soos voorgeskryf deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999, vry te stel. Sal u in staat wees om aan ons te toon hoe die Oyster Box daarin geslaag het om as regeringsverskaffer te kwalifiseer. Ons sien daarna uit om u terugvoer te ontvang.

Die uwe,
Dr. Danie Brink
Hoof Uitvoerende Beampte: Solidariteit Helpende Hand