Joshua na die Reën in die Super KunsteGrot

06-Joshua na die reenTHABAZIMBI – Joshua na die Reën is die eerste kunstenaar wat die verhoog by die Super KunsteGrot op Thabazimbi gaan betree en wel op Donderdag 26 Februarie om 19:00.
Joshua na die reën was benoem vir drie Ghoema toekennings as Beste manlike kunstenaar, Beste nuweling en Beste kontemporêre album manlik. Hy het onlangs weggestap met twee Ghoema-toekennings vir Afrikaanse musiek sowel as die Huisgenoot Tempo toekenning vir Nuweling van die Jaar. Nie net stap hy weg met die beste nuweling-prys nie, maar ook met die Ghoema vir beste kontemporêre album deur ’n manlike kunstenaar, waar hy gekompeteer het met groot name soos Bok van Blerk, Jak de Priester en Elvis Blue. Hy het gesorg vir ’n hoendervleis oomblik toe hy sy liedjie Lig op die horison tydens die Ghoema geleentheid uitvoer en presies gewys waarom hy hierdie twee Ghoema toekennings so verdien. Hierdie liedjie pryk ook al vir etlike maande op radiostasies landswyd se trefferparades.
Dié verhoogkunstenaar het reeds op negejarige ouderdom skoonskip gemaak in die vokale kategorie by die Eisteddfod. Sy duidelike gawe vir musiek is na regte geprys op universiteit, waar hy in 2010 as die top Jazz student gegradueer het. Tydens sy studies bemeester hy die klavier as sy hoofinstrument, ‘n vaardigheid wat op hede sy sterk aanvoeling vir die kitaar oorskadu.
Onthou dus Donderdag 26 Februarie, 19:00. Kaartjies is beskikbaar teen R130 en R100 vir pensionarisse. Voorafbesprekings kan gedoen word by Rita 083 7448559 of rivo@kunstegrot.co.za.
Maak gerus gebruik van hierdie geleentheid om ons top kunstenaars op ons plaaslike verhoog te geniet.