Pikswart water vervuil filtreerders

THABAZIMBI – Die gemeenskap van Thabazimbi moes noodgedwonge ure lank pikswart water vir huishoudelike gebruik in die gesig staar.

Dít volg nadat ‘n pyp by Bobbejaanwater, op Kumba-eiendom, verlede week gebars het en intussen deur die plaaslike munisipaliteit herstel is.

Die munisipaliteit kon verhoed het dat swart water aan die publiek verskaf is, deur die pype deur middel van die brandkrane uit te spoel. Om toe te sien dat die water vinniger aan die gemeenskap gelewer word nadat die pyp herstel is, het hulle dit egter nie gedoen nie.

Die bufferreservoir, waarin die water vanaf Magalieswaterraad en die munisipale boorgat, invloei, is veronderstel om sesmaandeliks skoongemaak te word vir doeltreffende sedimentbeheer. Aangesien die skoonmaakproses die afgelope agt maande afgeskeep is, het dit bygedra tot die gemeenskap se swart water, deurdat die skoon water, wat in die reservoir ingevloei het na die herstel van die pyp, gemeng het met die opgehoopte sediment.

‘n Eienaar van ‘n plaaslike gastehuis is hewig ontsteld oor die toestand van die water. Slegs vyf dae nadat hulle nuwe filtreerders in hul watersuiweraar installeer het, moes dit weer vervang word.

Die koste verbonde aan die vervanging van die filtreerders beloop derduisende rande. “Hoe lewe ‘n mens van die water? Is dit nie deel van die diens wat die munisipaliteit aan ons moet lewer nie, hulle moet mos skoon water aan die publiek verskaf. Om te kla help nie, want daar word net mooi niks daaraan gedoen nie,” het die eienaar aan Kwêvoël gesê.

Watergebruikers wat as gevolg van die volgehoue waterkrisis watertenks aangeskaf het, is ook nou ontstoke nadat dié vuil water in hul tenke ingevloei het.

Ander inwoners se klere is onherstelbaar beskadig nadat dit met die swart water gewas is.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.