Totsiens blom

KROONDAL – ‘n Tragiese ongeluk het die lewe van Simoné Grobler (24) op Saterdagaand, 5 Oktober 2013, geëis nadat ‘n vragmotor voor haar motor op die ou Rustenburgpad ingedraai het.

Die vragmotor het by die Samancor myne uitgedraai en die voertuig getref. Haar broer, Gerhard, is op 28 Maart vanjaar ook in ‘n motorongeluk oorlede.

Simoné het ná die voltooiing van haar skoolloopbaan by Hoërskool Frikkie Meyer die besigheidsmark betreë. Sy was ten tye van haar afsterwe by Lonmin myn as sekretaresse werksaam.

Haar suster, Lizaan, beskryf Simoné as ‘n saggeaarde mens met ‘n hart van goud. Sy sal veral onthou word vir haar besonderse manier van lag en humorsin.  Haar opgewekte persoonlikheid en liefde vir sosiale geleenthede het haar bemind gemaak by haar vriende. “Sy was ontsettend lief vir haar gesin.” Simoné het ook haar kreatiewe kant uitgeleef met “scrapbooking” en die versameling van handsakke en skoene.

Haar begrafnis vind vandag, Vrydag 11 Oktober 2013 om 11:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk van God (Oase Aanbiddingsentrum) te Brits plaas. Haar verassing is privaat. Die diens word waargeneem deur Pastoor Dirk Enslin. Besigtiging vind plaas tussen 08:00 en 10:00 te AVBOB, Brits.

Simoné laat haar ouers, Gerhard en Amanda Grobler asook haar suster, Lizaan, na. Haar familie, vriende en kennisse betreur haar afsterwe.

Haar familie bedank graag die gemeenskap vir hul ondersteuning. Haar vriende en vriendinne, wat haar so ongelooflike lief gehad het word bedank vir hul jarelange vriendskap. Voorts bedank die familie almal vir die ondersteuning, omgee, boodskappe en oproepe. ‘n Spesiale dank aan Lonmin myn en Simoné se kollegas vir alles wat hulle vir haar beteken het. “Julle het ‘n besonderse groot rol in haar lewe gespeel. Woorde is min, maar dankbaarheid baie.”

Mareschka en Elme skryf: “Simoné, ons skryf vandag vir jou met soveel hartseer in ons harte. Ons is so verslae en is jou heengaan so onwerklik. Daar is vandag ‘n groot leemte in ons lewens gelaat, maar sal ons dit vul met al die kosbare herinneringe van jou. Jy’t diep spore in ons lewens getrap. Ons gaan jou baie mis, ons blondekop vriendin!”

41-Simone Grobler

Simoné Grobler (24) is op Saterdagaand 5 Oktober oorlede nadat ‘n vragmotor met haar voertuig gebots het.