Community

Steenbokstraat steeds ‘n renbaan

THABAZIMBI – ‘n Geweldige slag net ná half sewe op Maandagaand 26 Augustus, het Jaco Faurie, ‘n inwoner van Steenbokstraat, se hare laat rys.

“Ek kan nie vir enigiemand beskryf hoe daardie geluid geklink het nie, maar ons het dadelik geweet daar is groot fout,” het Jaco aan Kwêvoël gesê. Die toneel waarop hulle afgekom het op die voorkant van hul erf, was ondenkbaar. Nooit sou die Fauries verwag dat ‘n voertuig al 10 staalpaaltjies op hul sypaadjie, wat met sement geset is, met een slag sou kon uitry nie.

Jaco het sowat drie jaar vantevore die staalpaaltjies, kompleet met reflekteerband, aan die voorkant van sy tuin aangebring om onwelkome voertuie van sy groen gras en besproeiingstelsel weg te hou. Dit het nou handig te pas gekom aangesien die voertuig, wat duidelik met ‘n hoë spoed gery het, heel moontlik in die Fauries se motorhuis sou beland het, was die paaltjies nie stewig geplant nie.

Jaco het aan Kwêvoël gesê dat hy die saak nie hier gaan laat nie. “Dit is die hoeveelste keer wat ‘n voertuig binne-in iemand van Steenbokstraat se erf eindig, en dit oor drank en spoed.” Volgens Faurie het die bestuurder na drank geruik en het hy foto’s geneem van die bottels drank wat in die binnekant van die voertuig was kort na die ongeluk plaasgevind het.

Die erf waarin die Mercedez Benz verlede week opgeëindig het, nadat dit deur ‘n inwoner se palissadeheining gebars het, is aan die oorkant van die Fauries se woning.

“Die mense in die buurt is té bang om hul kinders buite in die straat te laat fietsry, wat nog te sê van voor in die erf te laat speel.” Het ‘n ontstoke Faurie gesê. Hy eis dat die roekelose bestuurder aan die pen gery moet word en dat alle ander bestuurders wat die straat as renbaan misbruik, aangekeer moet word. “Ons lewens is in gevaar, die verkeersafdeling of die munisipaliteit móét nou iets daadwerkliks doen voordat iemand sy lewe verloor.”

DA-raadslid Bertie Joubert het ‘n brief gerig aan Cornelius Booysen, bestuurder van tegniese dienste by die munisipaliteit, oor die noodsaaklikheid van spoedwalle wat in Steenbokstraat aangebring moet word. Hy het verwys na die talle ongelukke waaroor Kwêvoël die afgelope tyd berig het en gepleit dat daar dringend aan die oprigting van spoedwalle aandag gegee word.

Die verkeersafdeling het te kenne gegee dat enigiemand wat dronk bestuur of die spoedgrens oortree, onmiddellike arrestasie in die gesig staar.

Deur Estie Taljaard estie@kwevoel.co.za

35-Ongeluk Steenbokstraat

Dié Volkswagen Jetta het op Maandagaand deur 10 staalpaaltjies geploeg nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.