Community

30 jaar van pret en plesier in die bosveld

Die 30ste jaarlikse Fast Freight Thabazimbi Wildsfees by Hoërskool Frikkie Meyer se program tydens die naweek van 31 Mei en 1 Junie 2013 is nie net propvol vermaak nie maar sommer oorvol! Pret en plesier vir die hele familie word beloof en stalletjies na elke smaak sorg vir ure se eet- en koopgenot. Benewens al die smul goed is daar meer as genoeg aktiwiteite vir almal om aan deel te neem en sommer baie pryse los te slaan.

Die hekke open reeds om 09:00 op beide Vrydag en Saterdag en die groot pret begin Vrydag om 11:00 wanneer Thabazimbi Wildlife Services se Wildsveiling die wildsfees afskop by die Trophy Breeder/Trollope saal by die skougronde. Hulle bied ook op die Saterdagoggend ‘n seminaar op die feesterrein in die skoolsaal aan. Die sprekers tydens die seminaar is dr Hein Nel (IMQAS), dr Maretha Van der Merwe, Herman Barnard (WRSA) en Johan Claassen (Gondwana Marketing). Laasgenoemde sal ‘n wild-afslag demonstrasie lewer. Daar sal ook wildsgeregte te proe aangebied word.

Boeresport, eiesoortig aan Thabazimbi Wildsfees is weer terug – begin sommer nou al om ‘n span bymekaar te maak want daar is lekker pryse op die spel en die kykNET Fiesta span maak ook ‘n draai om al die pret op film vas te vang. Die Wildsfees Potjiekoskompetisie, ‘n gewilde instelling op die fees, word hierdie jaar aangebied deur Dewside Restaurant en Brouery. Inskrywings het reeds gesluit, maar feesgangers word uitgenooi om te kom kyk hoe die sewe spanne woeker om die beste pot van die dag te lewer.

Op Vrydag sal die aktiwiteite op die feesterrein afskop met waterballon gooi, ‘n inkleurkompetisie vir die kleintjies en boeresport. Later die middag kan feesgangers uitsien na dr Louis Greeff se klein renoster praatjie en vermaak deur Nicky and the Niceguys. Dit word gevolg deur nog aktwiteite soos: jagpakkette veiling, die FAK/ATKV sangkompetisie, en die Campbells en natuurlik die gewilde after-party in die biertent.

Saterdag se program is ook propvol met onder andere ‘n boogskietkompetisie, die Wildsfees potjiekoskompetisie aangebied deur Dewside, ‘n Wildsvleis seminaar, Mej Wildsfees, vele boeresport en ander speletjies, optredes deur kunstenaars, bok-afslag, bokdrolspoeg en nog vele meer. Die aand se vermaak is werklik iets om na uit te sien met optredes deur Jakkie Louw, ADAM, Karlien van Jaarsveld en Die Heuwels Fantasties.

Die Bulls vs Cheetahs rugbywedstryd sal uitgesaai word vanaf 19:10 – so kom kuier lekker saam, moenie vergeet van die after-party in die biertent nie.

Kaartjies sal by die hek beskikbaar wees teen R60 vir die Vrydag en R70 vir die Saterdag, kinders onder 12 jaar kry gratis toegang.

Daar is verskeie kompetisies op die amptelike Fast Freight Thabazimbi Wildsfees se Facebook blad. Bly op datum met al die nuus, aankondigings by www.facebook.com/thabazimbiwildsfees

Vir verdere inligting kontak asseblief vir Karli by 082 324 7657 of Ludwich by 081 484 7753.