Geen regulasie is in plek vir munisipale werkers se salarisse nie en sommige verdien meer as pres. Jacob Zuma, het die Dispatch Online Donderdag berig.
Supt.genl. Stanley Khanyile van die Oos-Kaap se plaaslike regeringsdepartement het glo gesê prosesse is onderweg om die perke van hoeveel aan top-administrateurs betaal word te reguleer.
“Wettiglik is daar tans geen plafon nie. Wat ons nasionaal doen is om regulasies in hierdie verband te ontwikkel en te finaliseer,” het die koerant volgens Khanyile gesê. Khanyile het tydens ‘n portefeuljekomitee-vergadering in Bhiso in die Oos-Kaap gepraat.
“Ons sal vir die eerste keer ‘n plafon hê. Die minister sal die munisipaliteite kategoriseer en dan die perke stel.”
In hierdie stadium is die regering se hande vas, het hy gesê. Dit beteken individuele munisipaliteite besluit op salarisse.
As voorbeeld is die Nelson Mandelabaai-metro se jongste munisipale bestuurder, Lindiwe Masngana-Ndlela, onlangs gekontrakteer met ‘n salarispakket van meer as R2,3 miljoen ‘n jaar – R300 000 meer as Zuma se salaris, het hy gesê.
Na wat berig word, verdien Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit se bestuurder, adv Ntsoane sowat R1.2 miljoen per jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
