“Tannie Beskuit” rus in vrede
THABAZIMBI – ‘n Geliefde inwoner, Petra Pretorius (60), beter bekend as “tannie Vetkoek” of “tannie Beskuit”, is skielik op Donderdagaand, 2 Mei, aan ‘n hartaanval oorlede.
Petra Pretorius (néé Stander), is op 14 Julie 1952 te Swartklip gebore, waarna haar ouers na Rustenburg verhuis het. Gedurende 1969 trek hulle terug na Thabazimbi. Petra matrikuleer in 1970 aan Hoërskool Frikkie Meyer.
Gedurende 1973 tree sy met Casper Pretorius in die huwelik en hulle vestig hulle in die Thabazimbi omgewing. Uit die huwelik is drie seuns en ‘n dogter gebore. Petra self was een van ‘n gesin bestaande uit vyf seuns en twee dogters. Sy was ook die ouma van agt kleinkinders.
Petra sal onthou word as ‘n opregte, spontane, vriendelike en hardwerkende mens. Sy het ook altyd ‘n belangstelling in ander se lief en leed getoon. Sy was by talle kerk- en gemeenskapfunksies en aangeleenthede altyd besig met die bak van vetkoeke, brood en beskuit, aldus haar liefdevolle bynaam, “tannie Beskuit”.
Sy was altyd meer as gewillig om haar gewig in te gooi waar sy ookal kon of waar dit nodig was.
Na die afsterwe van haar moeder, Rita, het sy haar vader, Dries, met liefde en deernis vir ‘n tydperk versorg.
Haar heengaan laat ‘n leemte wat moeilik gevul sal word. Haar skielike heengaan is ‘n groot skok vir almal wat haar geken het. Petra se begrafnis vind vandag, Vrydag 10 Mei 2013 om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk plaas.
Petra Pretorius (60), is op Donderdag, 2 Mei, aan ‘n hartaanval oorlede.