Stryd teen rou riool duur voort
THABAZIMBI – ‘n Besigheidsperseel in die industriële area is verlede week vir die sesde keer vanjaar deur rou riool deurstroom.
Dit wil blyk dat die probleem sy ontstaan het as gevolg van die noodsaaklike opgradering van die Regorogile hoofrioollyn.
Volgens werknemers by dié besigheid is dit ‘n ewigdurende stryd en sit hulle reeds vir twee jaar op ‘n maandelikse basis met die gemors. “Die besigheid ly daaronder in die opsig dat die mense wat hierheen moet kom, soos verskaffers, in die gemors moet vaskyk en dit ruik. Ons mense het al begin siek word…” Het ‘n werknemer moedeloos aan Kwêvoël gesê. Hulle rapporteer elke oorloop by die Munisipaliteit, maar tot op hede het die Munisipaliteit nog geen poging aangewend om die probleem op te los of die perseel ten volle te steriliseer nie.
DA-raadslid Bertie Joubert, het op 19 Maart die perseel besoek. “Ek was regtig geskok toe ek die rou riool sien wat die totale perseel deurstroom het. Ek is van mening dat die eienaar enorme skade alreeds gely het.” Het Joubert aan Kwêvoël gesê. Hy het onmiddellik die distriks gesondheidsinspekteur by sy kantoor besoek en hom daarna gebring tot by die perseel om die omvang van die situasie self te analiseer.
Volgens Joubert het die gesondheidsinspekteur die aangeleentheid dadelik by die Waterberg Distriks Munisipaliteit gerapporteer. Daarna het hulle die munisipaliteit besoek en het mnr William Majadibodu, Superintendent: Water van Thabazimbi Munisipalitiet onderneem om onmiddellik ‘n span werknemers van die Munisipaliteit na die perseel te neem en te probeer skoonmaak. Mnr Stoltz van die Munisipaliteit het aangedui dat hulle die spesifieke probleem as ‘n saak van dringendheid sal aanspreek en het sekere voorstelle gemaak.
Gesondheidsgevare wat rou riool vir mense inhou, is legio en moes die perseel met elke oorloop deur die Munisipaliteit gesteriliseer word.
Ten perse gaan was niemand van die Munisipaliteit by die perseel nie.
Rou riool loop vrylik deur ‘n besigheid in die industriële area.