Community

Angs en depressie Ondersteuningsgroep

THABAZIMBI – In die aanloop om ‘n Depressie- en Angs Ondersteuningsgroep in Thabazimbi te stig, word tans inligtingsessies oor die aard, oorsprong en hantering van dié gemoedsversteurings gehou.

“Kom ons praat daaroor” is die tema van die gesprek Dinsdagoggend, 9 April 2013 om 9:00 by die NG Kerksaal.

“Ek ly aan depressie, maar niemand mag weet nie…”

Vir ‘n algemene siekte waaraan 10 – 15% van die wêreldbevolking iewers in hul leeftyd sal ly en wat nie geslag, ras, ouderdom of beroep ontsien nie, skram meeste mense darem heftig weg daarvan – en dit sonder om te weet waaroor dit nou eintlik gaan.

Baie mense het ‘n idee dat iemand wat aan depressie ly, ‘n tipe minderwaardige, swak persoon is wat nie eintlik êrens in die lewe sal kom nie. En wie wil nou hê dat ander dit van hom moet dink? Watter toekoms is daar vir so iemand? Geen wonder mense is huiwerig om te erken dat hulle swaarkry en vir hulp aanmeld nie! En net daar loop hulle die kans om deel te wees van die 80-90% van depressielyers wat gesond word, mis. Dit is ‘n lewensgevaarlike siekte, maar dit hoef nie ‘n dodelike siekte te wees nie – as mens net die kennis en dan die moed het om hulp te kry.

Die hartseer daarvan is dat meeste mense nie hulp soek nie, omdat hulle nie die erns van hul toestand self herken nie, of bloot bang is vir wat die mense sal sê. Die vooroordeel wat aan depressie-en angstoestande gekoppel word, is bloot die gevolg van onkunde oor ‘n ongemaklike onderwerp, in ‘n groot mate omdat dit oor emosies gaan. Al wat jy dus het, is om jou eie gevolgtrekkings te maak op grond van spekulasie of jou eie interpretasie van iets waaroor jy eerder nie wil dink nie – definitief nie waar dit oor een van jou geliefdes gaan nie. Hulle moet net hul “nonsens stop” en hulself “regruk”. Die tyd het aangebreek om eerder ‘n veilige geleentheid te bied om na vore te kom sodat hulle, soos vir enige ander mediese toestand, hulp kan kry en gesond kan word.

Hoe sal jy weet, en wat maak jy as jy vermoed jy, jou man, vrou, kind of ‘n vriend het ‘n depressieprobleem en hoe ondersteun jy hom? Kom bemagtig uself met kennis en word deel van die oplossing op Dinsdagoggend, 9 April 2013 om 9:00 by die NG Kerksaal.