Deur Tobie Lombard
POLOKWANE:- Die berugte “pienk sjebien” in die RDP woonbuurt in Rooiberg het Dinsdag om voortbestaan geveg voor die Drankraad in Pietersburg (Polokwane). Verlede Sondag het sowat vyftig swart betogers voor die polisiestasie in Rooiberg ‘n wanordelike toi-toi betoging gehou.
Nadat daar talle mense aan die aanvanklike betoging deelgeneem het, het die meeste mense na ‘n paar minute die pad terug huistoe gevat. Hierdie joernalis en sy wederhelfte is gedreig toe hy foto’s van die “betoging” geneem het. Ironies is talle skoolgaande kinders in volle sterkte tussen die betogers opgemerk. Hulle het betoog teen die “ sluiting” van die sjebien.
Inwoners van Rooiberg, swart én wit, mor al vir drie jaar oor die onhebbelike lawaai wat van Donderdae tot in die oggendure van Sondae daar gemaak is. Sommige weeksdae is daar voortgegaan met die lawaai. ‘n Petisie ter ondersteuning van die sluiting van die sjebien is deur meer as eenhonderd-vier-en-twintig inwoners onderteken.
Veral bejaarde swart inwoners het male sonder tal gekla oor die gebrek aan nagrus. Ouers met skoolgaande leerlinge het ook beswaar aangeteken dat hulle kinders nie tydens eksamentye kan studeer nie vanweë die geweldige lawaai. Nadat kol. CJ Homan, Rooiberg besoek het, het hy polisiebeamptes ernstig gewaarsku dat indien hulle nie hulle werk doen nie, hulle summier ontslag sal kry.
Die Vrydag na afloop van Homan se besoek het die lawaai opnuut voortgegaan. Daar is toe beslag gelê op die sjebien se klanktoerusting.
Stasiebevelvoerder kapt. Anna Sithole het in opdrag van Homan voortgegaan met die polisie ondersoek. Soveel so dat die sjebien-eienaar Dinsdag voor die drankraad in Pietersburg gedaag is.
Die getuies wat die Drankraad subpoena het almal baie sterk getuienis gelewer. Kaptein Annah Sithole het in haar getuienis voor die Drankraad getuig hoe baie lede van die publiek by haar gekla het oor die voortdurende lawaai by die sg. “ pienk” sjebien.
Dit het aan die lig gekom dat die dranklisensie nie in die naam van die regte sondebok is nie maar in sy suster se seun se naam. Laasgenoemde was wel in die beskuldigde stoel. Nadat die drankraad vir middagete verdaag het is voortgegaan met die aanhoor van getuies. Die saak is uitgestel tot Woensdag 3 April 2013.
