So Trap Ons Petrol

Week 8 – 22 February 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:

 

STOP, is nie net die eenvoudigste en mees bekende verkeersteken nie, maar ook die een waaraan motoriste, motorfiets- en fietsryers hulle die minste steur. Tog is dit sekerlik dié verkeersteken met die grootste impak, nie net impak wanneer voertuie mekaar tref as een of meer motoriste dit ignoreer nie, maar ook impak op lewensverlies van mense wat by stopstrate noodlottig beseer word.

Met al die NW registrasies wat op ‘n gereelde basis oor stopstrate ry sonder om enigsins spoed te verminder, kry ‘n mens die indruk dat die vreemde motoriste maar die voorbeeld van die plaaslike motoriste volg, net in ‘n bietjie oordrewe vorm. Die afgelope paar weke moes ek onvermydelik ‘n paar keer die verkeer in Rustenburg aandurf. Dit is toe dat ek besef dat die Noord-Westers het geen ontsag van enige aard vir ‘n stopteken nie.

Ry regdeur die plakkerkampe net voor Rustenburg, verby die vliegveld en die tronk en jy moet maar jou oog heeltyd op die verkeer hou sodat hulle nie van agter af in jou vasjaag nie as jy dit dalk sou wag om by enige van die talle stoptekens te stop.

Thabazimbi is ‘n dorp waar skoolkinders vanaf die verste hoeke steeds skool-toe en terug huis-toe stap. Baie word met bussies afgelaai en ‘n hele paar skoolbusse doen ook die rondtes. Motoriste moet dus ten alle tye, veral voor die skole begin en nadat dit uitkom, dit in ag neem dat daar wel skoliere gaan wees wat strate oorsteek. Wees maar ekstra versigtig en probeer jouself in die voetganger se situasie indink as jy hulle langs die pad gewaar. Kinders tree impulsief op. Verminder jou spoed gerus om vir enige onverwagte aksie voorsiening te maak.

Met geen skoolpatrolies aan diens nie, is dit partykeer ‘n groot waagstuk vir kinders om die straat oor te steek, al is dit by ‘n wettige voetoorgang. Baie motoriste steur hul eenvoudig nie aan voetgangers wat wag om by ‘n voetoorgang die straat oor te steek nie. Net so is daar die voetgangers wat drentel en draai by die voetoorgang en dan ewe skielik besluit om voor die verkeer in oor die straat te drentel. Stop as daar voetgangers is wat wag om die straat oor te steek en as voetganger, maak dit duidelik vir die motoris dat jy wel van plan is om die straat oor te steek. Doen dit soos ons op skool geleer het, naamlik sonder om te drentel of oor te hardloop.

Om oor die straat te hardloop is sekerlik een van die gevaarlikste dinge wat kinders aanvang want as hulle hardloop dink hulle net daaraan om so gou as moontlik oor die straat te kom sonder inagneming van naderende verkeer. Waar is die dae toe ons gewag het dat die bus eers vertrek en jy seker is dat dit veilig is om die straat oor te steek nadat jy afgelaai is, voordat jy oor die straat stap?

Word die kinders dan nie meer van voetganger en verkeersreëls op skool geleer nie? Waar is die ouers wat moet sorg dat hulle kinders deeglik bewus is van verkeersreëls en om verkeerstekens te eerbiedig? Het ons dalk hier te doen met ‘n tendens dat kinders hul ouers se padmaniere slaafs navolg?

Maak dit deel van jou gewoonte om die voertuig ten volle tot stilstand te bring net agter die stoplyn, veral by 3- en 4-rigting stopstrate. Moenie maar net besluit dat jy weer gaan versnel sonder om tot stilstand te kom sodra jy sien dat die ander voertuig wel gaan stop nie. Die skade is dalk nie net ‘n gestampte kar of ‘n gekrenkte ego nie maar dalk ‘n lewe wat daarmee heen is.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.