Go Purple projek skop af in Thaba

THABAZIMBI – Die dinamiese Go Purple projek wat in die Vaaldriehoek deur Annari du Plessis van Crossroads geïnisieer is, het reeds landswyd uitgekring en vertel vroue tot selfs in Thabazimbi ook hul stories van hoop en oorwinning na geweld of verkragting.

Daleen Venter, ‘n plaaslike Pastorale Berader, het Kwêvoël genader om dames bewus te maak van hierdie projek, om sodoende die stilte oor geweld, mishandeling en verkragting van vroue te verbreek.

Die projek het spoedig vlam gevat en oral in Thaba word dames met pers en pienk strepies in hul hare bespeur, wat hul steun aan dié projek toon. Baie mense loop hul lewe lank met die onsigbare merke wat die lewe laat, maar hierdie besondere dames wat hul storie van hoop en oorwinning met mekaar en die gemeenskap wil deel, wil graag hul traumatiese ondervindings verander na inspirasie en hoop vir ander wat ook deur ‘n soortgelyke ervaring diep gekneus is.

Een so ‘n besonderse dame is Melinda Scheepers, ‘n bekende haarkapster van Thabazimbi. Sedertdien die projek geloods is, spog sy met haar eie pers streep in haar gietswart hare, ‘n streep wat nie net getuig van haar eie oorwinning nie, maar ook haar jarelange trauma om te swyg oor iets waaroor sy geen beheer gehad het nie.

In die beskutte kantoor van Daleen vertel Melinda haar verhaal, in die hoop dat dit ‘n ander seer dogtertjie sal help om oop te maak en haar lewe terug te eis.

Melinda is nie seker wanneer die mishandeling begin het nie. Sy onthou egter dat sy nog maar ‘n klein dogtertjie was en dat die man besonder bekend was aan die familie. Die mishandeling het soms by haar huis gebeur, met haar niksvermoedende ouers wat buite gebraai het, andere kere wanneer haar ouers haar by hom gaan afgelaai het om ‘n ogie oor hul dogtertjie te hou wanneer hulle nie kon nie.

Eers as volwassene het sy haar ouers hiervan vertel. Sy het ‘n sterk band met haar pa en sy het hom nooit verwyt nie. Die liefde en sekuriteit wat sy by hom ontvang het, kan dalk tog gesien word as deel van haar redding. Op 12-jarige ouderdom het sy besef dat sy self iets kan doen. Deur te skree as hy nader kom of om op te staan en weg te hardloop, het die man weggehou.

Na hierdie langdurige trauma het Melinda in haarself begin twyfel. Sy was ‘n introvert op skool en het sy haarself in haar kuns verloor wanneer die donker kloue van depressie haar wou verswelg. As konserwatiewe jong meisie het sy wel kêrels gehad, maar niemand kon die skanse om haar bang hart verbreek nie. Sy het gesukkel met vertroue en was vir ‘n ruk, toe sy in Gr 10 was, in ‘n rebelse fase gedompel. Melinda se herstelproses het egter eers begin nadat sy besef het dat geluk van haarself gaan afhang en dat sy met haarself tevrede moet wees.

Melinda vertel dat gebed haar gedra het en dat sy haar deurbraak ontvang het nadat sy besef het dat sy die positiewe in die gebeure moet soek. Sy het altyd geglo dat daar ‘n doel was met haar lewe. Vandag is sy getroud met ‘n liefdevolle eggenoot wat haar ondersteun in elke faset van haar lewe. Sy is ook die trotse mamma van ‘n negejarige dogtertjie, vir wie sy haar lewe sal opoffer. Die sterk karakter wat Melinda deur die verloop van die onderhoud getoon het, getuig van ‘n vrou wat heling gevind het. Volgens Melinda is vergifnis ‘n proses. “Jy moet jou seer eers afhandel voordat jy op die punt kom dat jy okay is met dit wat gebeur het.” Het sy met sterk oortuiging aan Kwêvoël gesê.

Haar raad aan ouers is om na hulle kinders te luister. Kinders het soms ‘n snaakse manier om ‘n ding te sê en ouers moet ag slaan daarop, dit kan net wees dat jou kind deur ‘n familievriend mishandel word en te skaam is om daaroor te praat. Sy wil ook die dames van die gemeenskap uitdaag om hul monsters van die verlede in die gesig te staar, sodat hulle waarlik vry kan wees om ‘n oorvloedige lewe te kan lei.

Enige dame wat voel sy is gereed om haar storie van hoop, genesing en oorwinning te deel, kan Daleen kontak by 082 552 1283 of daleenventer@live.com om deel te word van die Go Purple projek.

Melinda Scheepers, ‘n geliefde haarkapster van Thabazimbi, deel haar storie van hoop en oorwinning as deel van die Go Purple projek.