Boelies en kletskamers
Week 39 – 28 September 2012
In die samelewing word boelies geredelik aanvaar deur ouers en onderwyser wat die standpunt inneem dat kinders, wat die teiken vir boelies is, daardeur sterk gemaak word om as hul groot is eendag hul man te kan staan. Baie mense sê dan ook dat hulle as kind geboelie is en dit het hulle geleer om op te staan teenoor mense wat hulle wou verneder of afkraak.
Miskien is daar ‘n mate van waarheid hieraan verbonde, maar almal het nie die persoonlikheid om die blatante afbreek van die persoon deur boelies, af te weer nie. Baie slagoffers van boelies bly eerder stil as om met hulle onderwysers of ouers daaroor te praat. Miskien oor dieselfde rede wat reeds genoem is. Hulle weet dat die geboeliery net sal vererger indien hulle durf praat aangesien niks of baie min aan boelies gedoen word.
Ouers wil ook nie graag erken dat hulle kind ‘n boelie is nie, ‘n gedrag wat ook indirek verbind kan word aan die tipe van huishouding waarin die kind groot word. As almal in die huishouding moet swig voor ‘n pa se uitbarstings wat hy op sy gesin uithaal, gaan dit ‘n invloed op die kind hê. Met dit as enigste voorbeeld gaan hy/sy dieselfde gedrag teenoor kinders, swakker as hulself, openbaar in ‘n poging om mag en erkenning, wat hy/sy nie in hul ouerhuis kry nie, van ander kinders af te dwing.
Een groot probleem met boelies deesdae is dat hulle hulself in bendes groepeer. Die hele bende bestaan miskien nie uit die tradisionele boelie wat heelwat groter as sy maats is nie, maar ook uit kleiner kinders wat by hierdie boeliebendes inskakel net sodat hulself nie geboelie kan word nie. Druk op die slagoffer kan so groot raak dat die kind sosiale onttrekkingsimptome ontwikkel wat tot erge depressie en selfs selfmoord kan lei.
Die nuutste manier van boelie is om die kletskamers en ander sosiale netwerke op die internet te gebruik. Een persoon sal miskien begin met ‘n vernederende skel boodskap teenoor ‘n mede leerling. Dit versprei baie vinnig en voordat die slagoffer besef wat gebeur is hy/sy in hierdie netwerk vasgevang met geen uitkomkans nie. Boodskappe kan enigiets wees van ‘n smalende opmerking oor iemand se lyf, obskure foto’s, of ‘n skinderstorie waaroor die kind te skaam is om met ouers of onderwysers te praat.
Ouers is die enigste mense wat vir hulle kinders kan leer om die internet reg te gebruik. As mens net die opmerkings wat volwasse mense onder hul eie name, sonder skaamte op publieke kletskamers soos byvoorbeeld die van ‘n koerant of enige ander openbare instansies plaas, besef jy dat daar ‘n geweldige poging aangewend moet word om die gebruikers van die sosiale netwerke in te lig oor internet etiket, of te wel netiket.
Om jou elke frustrasie met die omgewing en die land se inwoners aan almal op die internet uit te bassuin, getuig beslis nie van goeie maniere nie. As jy iets te sê het, sê dit vir daardie spesifieke persoon waarvoor jy dit graag wil sê. Dit is tog te maklik om net die share-knoppie te druk en dit met honderde mense te deel wat dit glad nie met jou wil deel nie. Hou maar eerder daardie soetsappige brokkie nuus vir jouself en jou maatjie op facebook waarmee jy dit wil deel, nie die hele internetgemeenskap nie.
Dink twee keer voordat jy enige kletskamer betree.