Indiese Spreeu: Vriend of Vyand?

Indian Myna

Deur Morne Carstens

Deel 1

‘n Warboel van kwetter geluide en fluite buite, ‘n geskarrel in die dak en ‘n gemors langs die huis… Klink dit bekend? Wel in alle waarskynlikheid is dit ‘n Indiese Spreeu (alom bekend as Myna) se werk… Die Indiese spreeu ( Acridotheres tristis) is ‘n algemene voël in Thabazimbi, indien nie die mees algemeen nie.  Die spreeu op sigself vertoon selfs mooi , maar meeste mense besef glad nie die impak en gevaar wat hierdie voël vir ons plaaslike natuurlewe, omgewing en selfs ons inhou nie.

Die Indiese spreeu is inheems aan Suidelike en suidoos Asië, maar kom deesdae regoor die wêreld voor en is in verskeie lande reeds as pes verklaar.  Die eerste Indiese spreeus in Suid-Afrika dateer terug na 1902 toe voëls uit aanhouding ontsnap het.  In die komende jare is meer en meer voëls vrygelaat om te help met die bestryding van insekte onder andere sprinkane en kewers.  Verskeie voëls het verder ook uit aanhouding ontsnap in die noord ooste van die land. Die bevolking en verspreiding van die voëls het teen ‘n geweldige spoed toegeneem  en voëls is al so ver as die Wes-Kaap waargeneem. Daar is ook bewyse dat mynas 330km en meer kan aflê binne ‘n jaar. Hierdie “trek” eienskap van die Indiese spreeu het veroorsaak dat dit teen 1987 reeds  feitlik die hele Noordelike en Noord-Oos  Suid-Afrika en selfs die Suideweste van Botswana beset het, en die bevolking is steeds besig om eksponensieël te vermeerder en vinnig  te versprei.

Daar is verskeie redes waarom die Indiese spreeu so goed vaar in Suid-Afrika, waarvan die hoofredes waarskynlik is dat die voël so goed aangepas is by mense en veranderde habitatte. Suid-Afrika se groeiende bevolking en die tempo waarteen die omgewing versteur word, pas die Indiese  Spreeu  dus uitstekend. Dit is waarskynlik een van die mees goed aangepaste uitheemse voëls in Suid-Afrika en word ook gesien as wydverspreid .

Dus kan daar aanvaar word dat as daar nie drasties iets aan die bevolkings groei van hierdie spesie gedoen word nie, daar reuse probleme vir ons inheemse voëls en omgewing kan ontstaan. Volgende week kyk ons waarom hierdie voël so ‘n probleem is.