Solidariteit bekommerd oor werksverliese na sluiting van nog ’n platinummyn

Solidariteit Helpende Hand

Die vakbond Solidariteit het’n beroep op die myngroep Aquarius Platinum gedoen om ’n maatskaplike plan in werking te stel ten einde te verhoed dat nagenoeg 1 500 werknemers sonder werk sit na die sluiting van sy Everest-myn naby Lydenburg. Die sluiting van die myn is skaars ’n week nadat Aquarius Platinum sy Marikana-skag in Kroondal gesluit het, aangekondig.

Volgens Louis Pretorius, woordvoerder vir Solidariteit, moet die maatskappy Emgodini, hoofmynkontrakteur by die Everest-myn, werknemers onder meer bystaan met werksaansoeke by ander myngroepe. “Daar is geen alternatiewe vir die werknemers beskikbaar nie, aangesien Emgodini slegs op die Everest-myn bedrywig is. Werkgewers moet die proses met behulp van ’n behoorlike maatskaplike plan aanpak ten einde elke individu deur die hele proses te ondersteun en so ver moontlik te lei om in die ekonomie teruggeplaas te word.”

Solidariteit verteenwoordig nagenoeg 230 werknemers by die Everest-myn. Die vakbond het ook sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid van verdere mynsluitings of afleggings, aangesien die platinumbedryf worstel met lae pryse, stygende koste en arbeidsprobleme. Solidariteit het intussen Susan Shabangu, minister van minerale bronne se aankondiging dat ’n taakspan op die been gebring sal word in ’n poging om werksgeleenthede in die platinumbedryf te red, verwelkom. Die vakbond het egter gemaan dat die proses spoedig en met die nodige deursigtigheid uitgevoer moet word. Shabangu het die aankondiging Maandag gemaak tydens ’n vergadering met Midgett, die taakspan gemoeid met groei, ontwikkeling en indiensneming in die mynbedryf.

Suid-Afrika is die wêreld se grootste platinumprodusent. Die ontginning van dié metaal skep baie waarde in die ekonomie en verskaf werk aan derduisende mense.