Thaba spog met Kunsskool en galery

Petro van der Merwe van Petro’s School of Art & Gallery.

THABAZIMBI – Die opening van die langverwagte Petro’s School of Art and Gallery het uiteindelik op Vrydag 18 Mei te plaasgevind.

Dié unieke kunsskool, onderleiding van Petro van der Merwe, bied aan voornemende kunstenaars die geleentheid om hul eie kreatiewe gawes en talente te ontdek.

Petro het ‘n BA graad in Beelde Kunste aan die Universiteit van Pretoria (TUKS) verwerf en sedertdien het haar pad altyd met kunsonderrig gekruis.

Nadat sy kunsklasse aangebied het in Port Shepstone het sy ‘n kunsskool in Harrismith op die been gebring. Haar klas het met vier studente begin en met 60 geëindig.

Nadat kanker by haar gediagnoseer is, het haar dogter, Jani Spies, egter die kunsskool oorgeneem. Dokters het beraam dat Petro slegs vier maande oor het om te lewe, maar na drie chemo’s en ‘n operasie het Petro haar stryd teen kanker oorwin. Op 8 Maart 2012 toon alle skanderings dat sy wel skoon is van kanker. “Medies gesproke moes ek dood gewees het,” het Petro aan Kwêvoël vertel. Met diepe geloof en ‘n ywer vir die lewe weet Petro egter dat daar nog werk is om te doen.

Petro het ‘n jaar gelede by haar skoolliefde, Louis van der Merwe, in Thabazimbi aangesluit. Petro se vriendin en kunsstudent, Shorty Willemse, gesels gemaklik oor hierdie “sprokiesverhaal”. Louis het Petro na 43 jaar op ‘n sosiale netwerk opgespoor, by haar begin kuier in Louis Trichardt, en kort voor lank teruggebring na Thabazimbi. Na ‘n kort verlowing het hulle ewige trou aan mekaar beloof.

Volgens Shorty, wat ook lank by die Departement van Onderwys betrokke was, is daar ‘n groot tekort aan kuns en kultuur in die skool. “’n Mens kan vinnig sien of ‘n kind aggressief of sensitief is en geen selfvertroue het nie, aan die manier hoe hy teken,” sê Shorty. Die doel van Petro se kunsskool vir skoliere, is om leerlinge te help konsentreer en hul selfvertroue asook hul hand en oogkoördinasie te verbeter. Haar jongste student is 11 jaar oud.

Petro se styl is “ekspressionisties profeties”, maar sy lei elke student op in sy eie styl. Elke persoon begin by die teken van ‘n lamp sodat die student ‘n gevoel van vlakke en verhoudings kan ontwikkel, daarna teken almal gesigte en dan word olieverf bemeester.

Enigiemand wat lief is vir kuns is welkom om Petro se klasse by te woon. Daar kan tot 10 studente per klas geakkommodeer word. Klastye is Dinsdae tot Vrydae vanaf 10:00 – 16:00 en Saterdae slegs op bestelling. Sy wil ook graag later van tyd kunsbenodighede aanhou en kunstenaars van die omgewing is welkom om haar te kontak om hul skilderye in die galery uit te stal.

Kontak Petro by 076 179 8267 of besoek haar by haar winkel te Excel vulstasie. Met die helderrooi potte voor die deur is dié galery moeilik om mis te kyk.