Dok Tessa sê totsiens

Tessa van Wijk groet die bosveld wanneer sy volgende maand na Lichtenburg verhuis.

THABAZIMBI – Dr Tessa van Wijk, een van Thaba se bekende traumaberaders, groet vandeesmaand die bosveld wanneer sy en haar eggenoot na Lichtenburg verhuis.

Dr Tessa skryf aan Kwêvoël: “‘n Goeie vriend en kollega se woorde aan my toe ek in 2006 van Johannesburg na die bosveld (Thabazimbi) verhuis het, was: “…Om nader aan die natuur te lewe, bring stilte vir die moeë, gespanne stadsmens se gees…, jy kan die voëltjies hoor sing…”

“Wie wil nou die voëltjies hoor sing!” was my reaksie en natuurlik het ek ook nie gedink ek is moeg en gespanne nie – ek hou mos van die aksie van die stadslewe – daar gebeur die dinge…

Ses jaar later praat ek anders –  ek het stilte gevind, die gejaag na iets, wat eintlik niks was het verdwyn. Ek het die voëltjies  hoor sing en dit is pragtig! Ek het mense leer ken, mense wat huil, wat lag, wat skinder, wat troos en mense wat omgee. Ek het God weer ontmoet…

Die lewe bly ongelukkig ‘n toneel wat aanhoudend verander – horisonne is skuifbaar. Ek en my man verhuis die einde Mei 2012 na Lichtenburg, nuwe horisonne en ‘n nuwe toneel vir ons. Baie dankie Thabazimbi, Dwaalboom en Lephalale – nie net vir alles wat julle vir my gedoen het nie, maar vir dit wat julle vir my was – ek het hier kom stil word, liefde groete, dr Tessa van Wijk.”

Daleen Venter, ‘n geregistreerde Pastorale Berader, sal van dr Tessa se kliënte by die MEdi-Clinic lokaal oorneem. Sy nooi ook graag alle belangstellendes om haar vir ‘n berading-afspraak te kontak by 082 552 1283.