Shoprite nomineer Vrou van die Jaar

Thabazimbi se geliefde Me Marie Steenekamp is vanjaar deur Shoprite Thabazimbi as Vrou van die Jaar: Gesondheidsdienste genomineer. Op die foto is vlnr: me Lizelle Johnson (Bestuurder: Shoprite), me Marie Steenekamp en mnr Rudolph Steyn (Streeksbestuurder: Shoprite).

THABAZIMBI – Die plaaslike tak van die Shoprite Groep het vandeesweek hul nominasie vir Shoprite/Checkers se Vroue van die Jaar kompetisie aangekondig.

Hierdie reuse, nasionale kompetisie het ten doel om die mees besonderse en visionêre vroue  te identifiseer wat met deursettingsvermoë en vooruitsig ‘n positiewe impak op hul mede SA burgers se lewens maak.

Me Marie Steenekamp is hierdie jaar deur Shoprite genomineer vir hierdie gesogte titel en sal meeding in die kategorie: Gesondheidsdienste. Me Steenekamp is onder andere reeds etlike jare die Koördineerder van die SA Bloedoortappings Dienste Thabazimbi-tak en is verlede maand aangestel as Huis Immergroen se nuwe Bestuurder.

Die wenner van hierdie kompetisie kry individuele prysgeld asook R100 000 vir die organisasie van hul keuse. Die gala-aand word vir Julie 2012 beplan.