Mynreus wil vroeg volgende jaar begin ontgin

CoAL of Africa Limited (CoAL) verwag om teen die eerste kwartaal van volgende jaar met steenkoolontginning by hul Vele Myn digby die Mapungubwe Wêreld Erfenisgebied te begin.

CoAL het hierdie aankondiging verlede Woensdag gemaak, nadat die Minister van Waterwese, me. Edna Molewa, besluit het om die opskorting van hulle geïntegreerde waterlisensie op te hef.

Hierdie nuus is egter nie orals verwelkom nie. Die koalisie van nie-regeringsorganisasies, die Save Mapungubwe-groep, het vandeesweek hul ontevredenheid gelug oor die minister se besluit om hulle appèl af te keur. Verder beweer die groep dat daar in geen stadium op ‘n deursigtige manier met hulle gekommunikeer is nie.

“Ons beskou die minister se besluit as voorbarig, aangesien die departement nog nie skriftelike redes verskaf het vir sy besluit om die waterlisensie in die eersteplek uit te reik nie. Hulle is wetlik verplig om dit te doen,” sê die koalisie in ‘n persverklaring.

Wat veral vir hulle kommerwekkend is, sê die koalisie, is dat die minister se besluit permanente en onherstelbare skade aan die streek se alreeds skaars waterbronne kan aanrig. Die minister, argumenteer hulle, het as’t ware ‘n negatiewe presedent daargestel en dit nou soveel makliker gemaak vir ander maatskappye om aansoek te doen vir die opheffing van skorsings op hul waterlisensies.

Die departement het Woensdag, kort na CoAL se aankondiging, hul besluit in ‘n persverklaring verdedig. Volgens dié verklaring het Molewa besluit om die skorsing te lig “na inagneming van die belang van alle betrokke partye in die saak.”

Die koalisiegroep het reeds in Maart vanjaar ‘n appèlaansoek by die Watertribunaal ingedien, nadat Molewa ‘n waterlisensie aan CoAL toegestaan het. CoAL het egter, luidens die verklaring, vir ‘n opheffing van die skorsing gevra hangende die uitslag van die appèl “gesien in die lig dat sulke aansoeke tydrowend is en ‘n negatiewe effek op mynbedrywighede, inkomste en werkers het.”

Molewa het verder bevind dat voorwaardes verbonde aan die oorspronklike waterlisensie voldoende is. Dié voorwaardes sluit in dat CoAL binne drie maande ná die waterlisensie uitgereik is ‘n moniteringsforum moet stig wat bestaan uit waterspesialiste, belanghebbende en geaffekteerde partye, die burgerlike samelewing en plaaslike regering. Verder moet waterverbruik daagliks gemeet word en maandeliks aangeteken word.

Hoofuitvoerende beampte van CoAL mnr. Johan Wallington het in sy aankondiging sy tevredenheid uitgespreek en gesê die myn sal dadelik begin om personeel  in diens te neem.

“Die myn sal sowat 500 werksgeleenthede in die eerste operasiefase skep.” Hy het ook gesê dat die myn beplan om aanvanklik een miljoen ton steenkool per jaar te lewer. (LiN Nuus / Zoutpansberger)