Nuwe skool vir spesiale behoeftes

THABAZIMBI – Danksy die toewyding van ‘n groep dames asook ‘n handvol plaaslike gemeenskapslede, is daar nou hoop vir ouers van kinders met spesiale behoeftes.

Die dringende behoefte aan ‘n skool wat kinders met outisme, Down Sindroom asook ander leergestremdhede kan help, het mevv Salomien Snyman, Tessa van Wijk ‘n kliniese sielkundige, Janeen Barber, Marthie du Plooy en ander rolspelers laat besluit om hierdie groot projek aan te pak.

Op die oomblik is die meeste van die kinders in die gewone hoofstroomskole van die omgewing waar hulle ongelukkig nie kan aanspraak maak op die nodige gespesialiseerde aandag nie. Die nuwe skool sal gespesialiseerde toepaslike aandag kan bied. Leerders sal vooraf deeglik getoets en geëvalueer word voordat daar besluit sal word op ‘n geskikte leerprogram. Die groepe sal klein wees en ‘n assistent sal die onderwyser voortdurend bystaan wanneer kinders geleer word. Die Autism Foundation sal die skool ook bystaan met ‘n geskikte leerplan.

‘n Moderne rekenaarprogram wat deur me Martie Combrink geskryf is, sal gebruik word om die kinders te onderrig. Dié rewolusionêre program laat die kinders toe om speel-speel te leer. Terwyl die kinders leer word hul outomaties geëvalueer, sodra die kind vordering toon, word die speletjies dus outomaties meer uitdagend.

‘n Arbeids- asook ‘n spraakterapeut sal die kinders gereeld help met probleme en daar word gehoop om op die lange duur permanente terapeute in diens te neem. Hierdie terapeute sal dan ook teen vergoeding beskikbaar wees om ander lede van die gemeenskap te help. Swemterapie en perde sal ook gebruik word om die kinders te help.

‘n Stukkie grond naby Steenbokstraat is lank reeds geoormerk vir ‘n skool of ander opvoedkundige instansie en die nuwe skool sal waarskynlik hier gebou word. Die skool sal voorlopig uit vier klasse met agt leerders elk bestaan. Volgens me Salomien Snyman wil hul die skool graag vroeg volgende jaar oopmaak. Sy het aan Kwêvoël gesê dat die hoofde van skole in die omgewing, lede van die gemeenskap asook die sake-sektor nou saam gewerk het om hierdie skool tot stand te bring. Vir enige navrae, skakel gerus vir Salomien Snyman by 072 463 3657 of e-pos janeenb@lantic.net