
DE WILDT – Op Saterdag 28 Augustus 2010 het dames van Northam VLU en ‘n paar gaste die Kruie-Kwekery van Margaret Roberts aan die hange van die Magaliesberge gaan besoek.
Die geleentheid was die Jaarlikse Laventel Festival, en met die intrapslag is almal begroet met die soet geure van laventel, jasmyn en katjiepiering. Die rustige, lowerryke blomtuine is ‘n lus vir die oog, en ‘n lafenis vir die siel. Na ‘n heerlike organiese ontbyt in die teetuin, wat bestaan het uit geregte waarin kruie mildelik gebruik is, het die dames hul verlustig in die kruie-produkte en resepteboeke wat te koop aangebied is. Feetjieland is besoek, die doolhof (labyrinth) is gestap, en in die kapèl het almal stil geraak. Na ‘n besoek aan die kwekery, waar die dames hope kruiebome, vrugtebome en saad gekoop het, is almal huiswaarts. Northam VLU beoog om die Margaret Roberts Kruie-sentrum weer te besoek gedurende November, wanneer die Kersmark aangebied word. Indien enigiemand meer oor die VLU, en hul uitstappies wil weet, skakel Mari Meintjes 0147860304 of 0820864915. Die volgende VLU-maandvergadering vind plaas op 16 September 2010 te Swartklip.

