Renosters – Verdagtes aangekeer

LEPHALALE – Byna 30 renosters was reeds vanjaar slagoffers van wildstropers en in Limpopo het die SAP oorlog met die wilddiewe verklaar. In die Lephalale-omgewing het die plaaslike veediefstal-eenheid egter goeie vordering gemaak. Vyf verdagtes het Maandag in die hof verskyn. Hul saak is uitgestel na 6 September.

Die voorval hou glad nie verband met twee ander insidente, waar stropers ook gearresteer is nie. In een geval is Zimbabwiërs ook op die plaas Ferroland gearresteer en in nog ‘n geval is verdagtes gearrresteer wat op die spoor van renosters in D’Nyala Natuurreservaat was. In al drie hierdie gevalle, is geen renosters gestroop nie.

Volgens ‘n SAP woordvoerder het hulle snuf in die neus gekry, nadat ‘n blou Mazda opgemerk is, waar hulle verdagte persone langs ‘n wildplaas afgelaai het. SAP lede en ‘n veldwagter van Ferrolands, Grootegeluk se privaat wildreservaat, het die spore gevolg. Die Mazda is intussen in Marapong opgespoor. Twee verdagtes is ondervra en beslag is gelê op wapens. Die vyf verdagtes is eindelik die volgende dag aangekeer nadat hulle verder agtervolg is. ‘n .308 jaggeweer is in die bosse naby Marapong op die plaas Appelvlakte gevind. Die SAP woordvoerder het sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid van sukses: “Dalk het ons, ons werk te goed gedoen. Dis moeilik om mense vas te trek voor hulle die oortreding begaan het.” Die verdagtes is van Louis Trichardt afkomstig.

Twee renosters is onlangs tussen Vaalwater en Mookgopong in hulle omheinde kampie geskiet terwyl 5 tot 8 gewapende stropers twee werkers aangehou het. 17 patroondoppies, vermoedelik van R5 outomatiese wapens is op die toneel gevind. Die hele bosveld was op horings nadat die E-block watch veiligheidsnetwerk SMS’e uitgestuur het om grondeienaars te waarsku oor die aanval. Andre Snyman van E-block Watch sê hulle het heelwat reaksie ontvang en hy  het die polisie bygestaan in hul ondersoek.

Volgens Snyman is enkele arrestasies reeds op die plaas Morgenson gemaak, maar die polisie ondersoek nog die saak verder.

Die SAP het wildboere gemaan om op hul hoede te wees, veral met skaars wildspesies soos renosters.

Elana Greyling