Agri SA het hom gedistansieër van die besluite wat by die Nasionale Beraad vir Plaaswerkers van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in Somerset-Wes, vir aanvaarding voorgestel is. “Ons het in goeie trou deelgeneem, maar die Beraad se uitkoms reflekteer nie die wel oorwoë voorstelle wat vooraf by die Provinsiale berade gemaak is nie en ook nie die voorstelle wat Agri SA in die algemene sessies in die vier kommissies gedurende die laaste twee dae gemaak het nie. Dit is ook duidelik dat die uitkomste van die Beraad belyn is met vooraf opgestelde politieke standpunte en aspirasies wat geensins verband hou met die realiteite op plaasvlak nie”, sê Johannes Möller, President van Agri SA.
Dit volg nadat Agri SA op die laaste dag van die beraad uitgeloop het nadat geeneen van Agri SA se insette wat aan die kommissies gelewer is, glo in die resolusies vervat is nie.
Volgens Möller, sal sy organisasie se standpunte en aksies met betrekking tot plaaswerkers ondermyn word indien die growwe en ongegronde aantygings wat as uitgangspunte gebruik is om kredietwaardigheid aan radikale wysigings aan beleid te maak aanvaar word. Progressiewe boere is besig om vertroue te verloor in populistiese prosesse soos hierdie wat pas weer met die beraad beleef is. Agri SA sal derhalwe ander roetes oorweeg om voortgesette interaksie met die regering en ander rolspelers met betrekking tot plaaswerker aangeleenthede te verseker. “Ons sien onsself as deel van die toekoms van Suid-Afrika en sal voortgaan om oplossings vir volhoubare werkgewer-werknemer verhoudings, gebaseer op nakoming van wette en etiese waardes, te soek” het hy gesê.
In sy voorlegging by die algemene sessie van die beraad, het Möller gesê dat Agri SA verbind bly tot gesonde arbeidspraktyke en landelike ontwikkeling om beter lewens omstandighede vir plaaswerkers te verseker. “Boere en plaaswerkers werk sy aan sy om die nasie te voed en is afhanklik van mekaar om hulle doelwit van ‘n veilige en stabiele landelike gemeenskap te verseker”.
Agri SA erken en ondersteun ook die standpunte wat deur President Zuma by die beraad gestel is, nl dat “samewerking met landbou unies, veral individuele boere en ander organisasies, krities is”. In dié opsig het President Zuma verwys na ‘n onlangse konstruktiewe gesprek met Agri SA wat binnekort opgevolg sal word en hopelik tot verbeterde dienslewering nie slegs in die landbousektor, maar ook met betrekking tot landelike ontwikkeling en grondhervorming, sal lei.
“Ondanks die feit dat ons, in belang van almal in die landbou gemeenskap, nie die Beraad se uitgangspunte en uitkomste kon aanvaar nie, wil ek alle boere en plaaswerkers die versekering gee dat ons verbonde bly tot ‘n bedeling wat tot ‘n verbeterde lewenstandaard vir almal in die landbousektor sal lei”.
