Ou Bosvelder oorlede op 96

Tannie Catharina Thuynsma wat op 4 Julie op die ouderdom van 96 oorlede is.

THABAZIMBI – Tannie Catharina Thuynsma, wat sedert haar huwelik in 1939 ‘n inwoner van die Thabazimbi omgewing was, is op 4 Julie 2010 op die ouderdom van 96 jaar en 3 maande na ‘n kort siekbed oorlede.

Sy is op 1 April 1914 in Johannesburg gebore en het in die distrik Vereeniging, waar haar ouers geboer het, grootgeword.  Op 25 Desember 1939 is sy getroud met Petrus Thuynsma en vestig hulle op die plaas Olifantshoek in die Thabazimbi distrik.  Uit die huwelik is vier seuns gebore.  Op 38 jarige ouderdom verloor sy haar man op 13 April 1952.  Sy het later uitgespring en gaan werk vir 23 jaar as Hoofmatrone.  Die laaste 16 jaar daarvan was by Thabazimbi Hoërskool waar sy dan ook in 1976 aftree.

Ten spyte van moeilike jare maak sy haar vier seuns alleen groot. Die familie en vriende het haar gehelp en bygestaan waar nodig.  In 1994 verhuis sy na Ellisras en kom vestig haar by Koot en Ria Thuynsma.

Sy was ‘n merkwaardige vrou wat ‘n groot invloed op vele mense se lewens gehad het. Sy het deurentyd goeie gesondheid geniet met ‘n uitstekende geheue, goeie mensekennis, ‘n wye algemene kennis en het vele rate geken.  Sy kon altyd ‘n plan maak.  Ouma het groen vingers gehad en het enige ding aan die groei gekry.  Sy het van karakter ‘n goeie humorsin gehad en kon ‘n grap geniet.  Vanaf 9 Julie 2006 was sy woonagtig te Warmbad Rusoord Ouetehuis, waar sy goed versorg was.  Sy is daar oorlede en is in Ellisras op 9 Julie 2010 begrawe.

Ouma het gespog met 11 kleinkinders en 8 agterkleinkinders.  Familie en vriende was almal baie lief vir haar. Ouma sal altyd as ‘n geliefde en wyse persoon onthou word en voortleef in die harte van al haar geliefdes.