THABAZIMBI – Die Indiwiduele Puntespel verlede Saterdag by Thabazimbi Gholfklub het weer goeie spel opgelewer. Billy Pring en Bernie Gous eindig albei op 37 punte. RC Terblanche en Chris Bronkhorst het albei 36 punte aangeteken.
Daar lê ‘n besige maand voor vir die gholfspelers. Vrydag 5 Maart is dit die eerste rondte van die Interaksie Gholf. Saterdag 6 Maart is dit weer ‘n beterbal kompetisie met die verskil dat die twee maats se tellings met mekaar vermenigvuldig moet word. Dit kan nogal interessante uitslae lewer. Saterdag 13 Maart word die klub se verskillende kampioene bepaal. Die kampioenskappe word in verskillende afdelings gespeel. Op Donderdag 18 Maart speel die Waterberg Sages hier op Thabazimbi se baan. Die baan sal dan vir enige ander spel gesluit wees.
Saterdag 27 Maart word daar ‘n borgdag gehou om fondse in te samel om ons toerusting op te gradeer. Dan is daar nog die gereelde Woensdag se Pick n Pay Sonsakker en die Eklektiek wat deurlopend gespeel word.
Die gholfklub wil graag die Hoërskool geluk wens met die baie suksesvolle Interhoër, en hulle tweede plek, wat verlede Saterdag hier op hulle baan aangebied is. Almal met wie daar gesels is, was dit eens dat dit die beste byeenkoms was wat nog aangebied is.
