Entertainment

Gul ontvangs vir Bobby

THABAZIMBI –  Die jonger generasie was Woensdagaand baie goed by die KunsteGrot aanwesig met die optrede van Bobby van Jaarsveld en sy orkes. Miskien sal dit die ys breek om hulle ook by die ander aanbiedinge van die KunsteGrot te betrek.

Met ‘n gehoor wat ook goed deur die ouer en gereelde KunsteGrot besoekers ondersteun is, het Bobby en sy manne hul goed van hul taak gekwyt en vir uitstekende luitervermaak gesorg.

Nie Bobby of een van sy orkeslede het hulle deur die hitte laat onderkry nie en nieteenstaande ‘n papnat-geswete hemp, steeds hul beste gelewer. Die musiek van Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis, Neil Diamond en al daai  jazz-nommertjies wat hy gelewer het het hom nie net “King of the hill” gemaak nie maar sommer die koning van Thabazimbi-berg.

Volgens Bobby asook die man op baskitaar, Leon Janse van Rensburg – die enigste getroude man in die groep, is hulle baie in hul skik met die rojale ontvangs wat hulle by die Thabazimbi-gehoor ontvang het. Hulle is beslis nie gewoond aan so ‘n klein verhogie nie maar die kontak direk vanaf die verhoog met die gehoor was opvallend.

Buiten die talle liedjies op sy nuwe CD, “Net vir Jou”, soos Spieëltjie, Kon jy nie bly nie (Pretoria) en Storie van my lewe, het die jong manne ook bewys dat hulle meesters is met hul instrumente toe hulle wegtrek met ‘n heel opgewekte “Oupa in die langpad”.

Die kaartjies vir Bobby van Jaarsveld se vertoning was weke voor die tyd reeds uitverkoop. Bespreek dus altyd vroegtydig vir vertonings of jy mis dalk uit op heerlike vermaak.