Ons lesers skryf – Nie-stoppers laat hare rys
Ek het vanoggend (Dinsdag 18 Augustus) amper die dood van laerskoolkind veroorsaak toe ek by die 3-rigting stop op die hoek van Van der Bijlstraat en 10e Laan vir ‘n leerder die geleentheid gegee om by die voetoorgang oor die pad te stap. ‘n Wit Nissan Sentra het van bo in Van der Bijlstraat gekom, bietjie spoed verminder en die stopteken verontagsaam. Die leerder, wat besig was om oor die pad te stap, sou reg voor die motor beland het, as ek nie op my toeter geblaas het en haar beduie het om stil te staan nie.
Volgens die laerskool is die skoolpatrollie te gevaarlik omdat onbedagsame motoriste voorheen al padpatrollielede raakgery het.
Die ooreenkoms met die stadsraad was dat die Verkeersafdeling lede beskikbaar sou stel soggens voor en smiddae na skool om die kinders, wat die kruising gebruik, se veiligheid te verseker. Gesien aan die bogenoemde voorval is dit nie die geval nie.
Ek wil graag hoor of enige iemand ‘n idee het hoe ons motoriste meer bewus kan maak van die belang om padreëls te gehoorsaam, want ek sal nie rus voordat hierdie probleem aangespreek is nie. Skakel my gerus op 082 494 3123 met voorstelle.
Hannetjie Erasmus