Reuse Potbrood en Potjiekosdag beide wenners
Tobie Lombard 1949@lantic.net
Die potjiekos kompetisie wat verlede Saterdag deur Thaba Stereo 104.9 FM aangebied is op die dorp se skougronde was vanuit alle oogpunte ‘n reuse sukses. Die ou potbroodjie van 2m x 1,3m x 500mm was ‘n baie dapper dog heel geslaagde poging. Die spanning het soos ‘n elektriese stroom onder toeskouers geloop toe die vragmotor wat die pot na die binneruim vervoer het, die pot in sy plek posisioneer het.
Asems is opgetrek want sou die brood nie platgeval het nie? Sou die massiewe brood ooit gaar wees? Niemand het geweet of wou ‘n voorspelling waag nie. Neels Brits en sy span was egter nie in die minste bekommerd nie. “Ons is ou hande…” is al wat hy gesê het toe hy die pot se kant-plate laat sak het.
Daar lê hy toe. Pragtig goudbruin kors en dit lyk amper soos ‘n snoesige dubbelbed waarop jy kan slaap. Toe Victor van Wyk, stasiebestuurder, die eerste sny “afsaag” met ‘n spesiale mes wat Dries van Alma gemaak het was almal dit eens. Die brood is ‘n reuse sukses, deurgaar en ‘n kraak-kors.
Die potjiekos beoordelaars, Estie Taljaard van Die Kwêvoël, Marie Steenekamp (omroeper) en Tobie Lombard (Tobie Tob Nie) het kop gekrap.
Die wenspan, Thabazimbi Boogskietklub, het werklik alle moeite gedoen en uitgehaal en gewys soos lanklaas gesien is. “Hierdie trofee wil ons wen want dit sal jaarliks ons s’n wees!” het hulle gespog. Hulle het met ‘n baie kortkop die span van JJ van Koppie Alleen Gastehuis in Northam geklop. Veral die aanwending van vars kruie uit die manne se eie tuin en self gekweekte groente het beïndruk. Die swartbaars wat hulle vir voorgereg bedien het kon die skaal in hulle guns laat swaai het.
JJ en John van Koppie Alleen Gastehuis het egter self met ‘n spogpoging vorendag gekom wat lanklaas gesien is en bitter moeilik in die toekoms geklop gaan word. Veral die kunstige uitstal van pragtige geel sonneblomme het hulle stalletetjie opgehelder. Hulle aanbieding was professioneel is in ‘n hoë graad en het oud en jonk beïndruk.
Gert Snyman se Thabazimbi Motors se span het die onregverdige hulp van Frik Botha gehad. Frik is ‘n ou hand met die bedryf en hy was deel van die span wat in 2003 die Rooibokkraal Bonanza loshande gewen het.
Die ou motors wat uitgestal is het groot belangstelling gelok en so ook die ander uitstallers het waardering uitgespreek. Die dag se gebeure is afgesluit met ‘n bokjol soos min toe Thaba se eie orkes, Sekelbos, laat waai het.
Die dag is gereël om Thaba Stereo te help met die opgradering van die bestaande 500 Watt sender na ‘n volle 2 kilowatt.