Agricultural

Moenie met vuur speel nie

Elke boer of grondeienaar het nou ‘n groter verpligting om veldbrande te voorkom en te bestry.  Die verpligtinge word uiteengesit in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande nommer 101 van 1998 (“Die Wet”).  Die doel van hierdie Wet is om veld-, bos- en bergbrande dwarsdeur die Republiek te voorkom en te bestry.  Die Wet maak voorsiening vir ‘n verskeidenheid instellings, metodes en praktyke om hierdie doel te bereik.  Oortredings van die Wet kan jou ‘n swaar boete of selfs tronkstraf kos.  Hier volg ‘n paar vrae wat boere en grondeienaars gereeld vra.  Antwoorde is met behulp van Mutual & Federal Agri se spesialiste saamgestel tot voordeel van u, die boer.
Die Brandbeskermingsvereniging (BBV) is ‘n vereniging wat deur grondeienaars gevorm kan word met die doel om veldbrande te voorspel, te voorkom, te bestuur en te blus.
Met die uitsondering van Munisipaliteite en die Staat, is lidmaatskap van die verenigings vrywillig.  Munisipaliteite en die Staat moet toesien dat hierdie verenigings in hul gebiede volgens die Wet gestig en onderhou word.
Enige persoon of instansie wat lid van die plaaslike BBV wil word, kan die plaaslike boerevereniging kontak of skakel die Departement van Waterwese en Bosbou in Pretoria vir meer inligting.  Die BBV kontakpersoon in Thabazimbi is Herman Barnard en kan gekontak word by 082 335 6441.
Die Brandbeskermingsvereniging moet ‘n veldbrandbestuurstrategie ontwikkel en toepas, strategieë en aksies met aangrensende Brandbeskermingsverenigings koördineer, reëls maak vir lede en sorg vir die nodige opleiding van lede ten aansien van die bestryding van brande organiseer en brande bestuur en voorkom.
Om aan ‘n Brandberskermingsvereniging te behoort hou heelwat voordele vir grondeienaars in. Aangesien die voorskrifte van die BBV nagekom word sal geen vermoede van nalatigheid geld in die geval van ‘n siviele eis vir skade waar ‘n brand vanaf die lid se grond versprei en skade of verliese aan die eiendom of grond van ‘n ander persoon aangerig het nie. Dit lei ook tot verbeterde samewerking en kommunikasie in die voorkoming en bestryding van veldbrande deur die BBV binne die raamwerk van ‘n ooreengekome veldbrandbestuurstrategie. Hierby is daar ook die moontlike kwytskelding van sekere voorsorgmaatreëls, soos die voorbereiding van brandstroke.
Die BBV kan ook regulasies skep om by persoonlike omstandighede aan te pas.
Die skakelpersone is Herman Barnard by ERA Eiendomme tel 014 772 2628 of 082 335 6441 of Barries Barnard, Brandweerhoof van Amandelbult en Voorsitter van die Brandbeskermingsvereniging van Thabazimbi tel 082 572 6228.