Plaaslike kunstenaar stal uit in Pretoria
THABAZIMBI – Talent is nie beperk tot groot stede en metropole nie, dit kom wyd en syd voor, ook hier onder ons neuse in Thabazimbi. Marolien Joubert, beter bekend as Maro, het gedurende die laaste naweek in Mei haar skilderye in Pretoria uitgestal en die Pretorianers het dit opgeraap.
Volgens Marolien skryf sy haar sukses deels toe aan die optimisme en hoop wat sy in haar skilderye probeer vasvang. Dit is wat mense deesdae soek, nie noodwendig die hartseer en wanhoop van die huidige sosiale bestel nie. Sy self het haar deel van hartseer geken, maar die hoop seëvier, en die mense sien dit raak, sê Marolien.
Haar styl is ekspressionisties en hiervoor span sy die gebruik van ryk en warm kleure, soos rooi, bruin en oranje, mildelik in. Sy maak gebruik van ‘n “empasto”-verftegniek, waar verf dik aangewend word en maak in sommige skilderye ook gebruik van ‘n collage-tegniek, waarmee haar agtergronde ekstra tekstuur bykry.
Op aanbeveling van haar agent het haar onlangse skilderye dikwels figure as onderwerp, juis ook vir die rede dat die mark vra vir meer menslikheid en warmte, vertel Maro. Hulle soek nie meer die koue en abstrakte kuns wat so tipies is van moderne kunstenaars nie, sê sy.
Voor hierdie uitstalling was Marolien baie betrokke by uitbeeldings van liedjies en gedigte. Kunstenaars van ander genres, soos die sangeres Anna Davel, het haar genader om haar liedjies uit te beeld in ‘n visuele kunsvorm. Marolien het ook ‘n reeks skilderye gemaak om die gedigte van Ingrid Jonker uit te beeld.
Die afgelope maand het sy egter net aan haar eie uitstalling gewerk en kon sy vrye teuels aan haar kunsinstinkte gee, met baie goeie resultate.
Marolien het te kenne gegee dat sy binnekort ‘n uitstalling in Thabazimbi gaan hou, maar voorlopig het sy belangstellendes uitgenooi om haar te kontak indien hulle enige van haar skilderye wil besigtig. Sy kan geskakel word op 082 828 4507. Haar skilderye sal ook te sien wees tydens die Laerskool Thabazimbi se ‘Ma en Dogter’dag op ….