Thaba se Wildsboer van die Jaar
THABAZIMBI – Thaba Tholo se beleid om ‘n lae profiel te handhaaf het in die slag gebly toe sy algemene bestuurder, Rubin Els, in Maart vanjaar as Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Wildboer van die Jaar, 2007 aangewys is. Nou hoekom het hy dan ingeskryf as hy uit die publieke oog wil bly, mag ‘n mens vra. Want hy het nie, hy is deur die WRSA genomineer en ingeskryf.
Die organiseerders van die kompetisie doen moeite om wildboere landwyd te betrek. Limpopo het vier boere nomineer vir die kompetisie en ander provinsies een elk, hoewel sekere nominasies teruggehou is vir vanjaar, 2008, se kompetisie. Daar was uiteindelik nege finaliste wat meegeding het vir die titel van Wildboer van die Jaar.
Die konsep dat ‘n wildplaas basies soos ‘n besigheid bestuur word, en volhoubaar so, was ‘n belangrike oorweging vir die beoordelaars van die kompetisie, maar ook kwessies van omgewingsbewaring en sosiale verantwoordelikhede. Kriteria waarvolgens die boere beoordeel is, is finansiële bestuur, inkomste-opsies, wildsplaasbestuur, bedryfsgeoriënteerde navorsing, rekordhouding, infrastruktuur, arbeidskwessies en algemene betrokkenheid by die wildbedryf.
Die enigste van die kriteria waar Rubin, of Thaba Tholo (dis soms moeilik om die twee te skei), krediete verloor het,was die feit dat Thaba Tholo nie plaaslike jagters toelaat nie, maar slegs buitelanders.
Thaba Tholo, oftewel Berg van die Koedoe, is die geesteskind van die buitelander Tillman Ludin, ‘n besigheidsman en visionêr, volgens Rubin. Agtien plase, sonder aflegging van eienaarskap, is saamgevoeg om Thaba Tholo te vorm. Die eienaars het aanvanklik ‘n fonds gestig om die plaas onafhanklik van finansiële bydraes te kry, ‘n proses wat sowat tien jaar geneem het.
Die wyse waarop hierdie 35 000ha grond bestuur word, is ‘n navolgingswaardige voorbeeld vir baie wildsboere in die omgewing, veral vir sy goeie besigheidsbeleid. Projekte word net aangepak as daar positiewe resultate, hetsy finansieel of omgewingsgewys, verwag word.
Plaaslik weet boere én dorpenaars van Thaba Tholo, nie omdat dit ‘n lodge is wat toeriste lok nie, maar omdat dit die voortou neem op baie gebiede, soos op die gebied van veldherwinning. Sowat 30% van Thaba Tholo is op suksesvolle wyse ontbos en die veld en graslaag herstel na sy vorige glorie.
Die teling van skaars wildsoorte word suksesvol gedoen, so ook die vang en hervestiging daarvan op ander wildsplase. Olifante en leeus is suksesvol op die plaas gevestig. Daar is sprake van internasionale bande met Tanzanië om Serengeti van die Oos-Afrika swartrenoster, wat by Thaba Tholo geteel word, te voorsien. En in die toekoms mag ander Afrika-lande ook renosters van Thaba Tholo bekom. Op hierdie manier speel Thaba Tholo ‘n belangrike rol om die Oos-Afrika swartrenoster weer te vestig op die kontinent en te help veg teen sy uitwissing.
Wat bydra tot Thaba Tholo se sukses op bewaringsgebied is die feit dat daar nie toeriste en lodges op die plaas is nie, sê Rubin. So het hulle geslaag om, byvoorbeeld, olifante suksesvol te hervestig by Thaba Tholo, sonder die probleme wat gewoonlik gepaardgaan met olifante wat saamgevoeg word wat nie uit een familiegroep kom nie. Die enigste besoekers wat toegelaat word, is jagters.
Thaba Tholo is ten volle selfonderhoudend. Waar die plaas sy oorsprong miskien kon hê in ryk oorsese aandeelhouers, was dit van die begin af die mandaat aan die bestuur dat die plaas selfonderhoudend moet wees en nie ‘n finansiële las op die eienaars moet wees nie. Hoewel daar nie noodwendig winste hoef te wees nie, moet die plaas homself onderhou. Winste word tans vir verdere ontwikkeling op die plaas aangewend.
Maar as gekyk word na die grootte van die werkerskorps (sowat 80 werknemers), die navorsing wat gedoen word en die sekuriteit op die plaas, alles groot uitgawes, is dit geen klein taak om hierdie plaas selfonderhoudend te maak nie. Die aktiwiteite wat inkomste genereer op Thaba Tholo is jag, vleisverkope en die teel en verkoop van skaars wildspesies, naamlik swartwitpense, bastergemsbokke, tsessebes en njalas.
Die werksafbakening geskied oor vyf afdelings. Vyf bestuurders is in beheer van Ontbossing, Landbou, die Intensiewe Teeleenheid, Sekuriteit en Meganiese Onderhoud. Hierdie vyf afdelingsbestuurders rapporteer aan Rubin, die algemene bestuurder. Die hoof van sekuriteit, Piet Monyane, was eers ‘n beeswagter op een van die plase wat nou deel van Thaba Tholo is. Sy potensiaal is raakgesien en ontwikkel en nou is Piet een van vyf afdelingsbestuurders op die plaas.
Rubin, wat reeds 17 jaar ‘n werknemer van Thaba Tholo is, het begin as bestuurder van een van die afdelings, naamlik die Intensiewe Teeleenheid, maar is sowat vyf jaar gelede aangestel as algehele bestuurder.
Hy was destyds maar skrikkerig om die pos van Algemene Bestuurder oor te neem aangesien hy nie vertroue gehad het in sy besigheidsvermoë nie. Hy was opgelei in natuurbewaring en het sy loopbaan begin by die destydse Gazankulu Parkeraad. Hy was verniet bekommerd, want Thaba Tholo het van krag tot krag gegaan. Hy erken dat dit uiters bevredigend is om te sien dat die plaas finansieel baat by nuwe projekte en om te sien dat goed bestuurde fondse inkomstes kan genereer, en terselfdertyd word goeie ekologiese beginsels gevolg.
Een van die aspekte waarop groot klem gelê word by Thaba Tholo is sekuriteit. Baie werk en onkostes gaan daarin om wildstropers, vuur en vreemde diere buite te hou. Daar is min toegang tot die plaas, min besoekers en die hele plaas word deur ‘n dubbele draad, waarvan een geëlektrifiseer is uit te hou. Die korridor buite-om help ook om siektes weg te hou van siektevrye buffels en vure binne en buite die plaas te beveg.
In die Landbou-afdeling word gras en lusern verbou. Tussen 20 000 en 30 000 ton gras en tussen 30 000 en 40 000 ton lusern word geproduseer. Op hierdie manier kan die plaas self in die behoefte van die wild voorsien tydens die wintermaande. Surplus word verkoop en help plaaskoffers verstewig.
Thaba Tholo het en is steeds besig om ‘n groot rol te speel in die sosiale ontwikkeling van sy werknemers en hul afhanklikes. Kesarona Primary School is deur Thaba Tholo fondse gebou. Volgens Rubin is hulle steeds voortdurend betrokke by die skool om dit te help fondse genereer. Hulle sal byvoorbeeld nie net ‘n blouwildebees skenk aan die skool nie, maar wel as dit gebruik sal word om lootjies te verkoop of kos te maak en te verkoop vir fondsinsameling.
Thaba Tholo is ook instrumenteel in die groot prestasie wat hierdie klein plaasskooltjie in die gimnastiekveld behaal. Hulle het leerders van Kesarona by die Thabazimbi Gimnastiekklub ingeskryf. Uit ‘n klein plaasskooltjie van ongeveer vyftig leerders het vier medaljes by die nasionale gimnastiek kampioenskappe verower, ‘n uitstekende prestasie.
Rubin is getroud met Rosalynd, oorspronklik van Zimbabwe, en hulle het drie kinders, Markus (17 jaar oud), Robynne (15 jaar oud) en Rosalynd-Amy (10 jaar oud), wat tuis deur Rosalynd onderrig word.