Entertainment

Lianie May by Landbouskou

THABAZIMBI – Een van die sterk, nuwe en jong aanspraakmakers op die musiekmark is Lianie May en sy sal tydens die Thabazimbi Landbouskou van 31 Julie tot 2 Augustus plaaslik te hore – en te siene – wees.
Lianie se musiek is van ‘n aard dat dit sal aanklank vind by ouer en jonger mense, en goed sal inpas by die tema van ‘n landbouskou, veral hier by ons waar goue oues van die Country & Western legendes hul verskyning gaan maak. Inligting wat oor haar musiek beskikbaar is, beskryf haar styl as rock-country.
Lianie gaan die wêreld aan die brand sing met haar ongelooflike stem en emosionele interpretasie van splinternuwe Afrikaanse treffers uit die skrywerspenne van Johan Vorster en Sean Else.
Haar eerste CD, Vergeet my nie, bevat treffers van gemengde aard. Die titelsnit, Vergeet my nie, bevat ‘n hartroerende interpretasie van die hartseer en pyn wanneer ‘n mens ‘n geliefde verloor. Ander snitte, soos Boerevry, Bel bel bel en Ek kom huis toe laat die tone wikkel en ander laat weer die hartsnare roer. Voorbeelde hiervan is Jy soen my nie meer nie, Los my nie alleen nie, Vrou staan by haar man en Somerreën. Die CD bevat ook twee Dolly Parton-treffers en vuurwarm Belinda Carlisle medley. Sy erken dat die 80ers se musiek sterk inslag in haar musiek vind, omdat dit die musiek is waarmee sy grootgeword het.
Haar musiek herinner sterk aan Shania Twain en Dolly Parton. Dis gevul met sterk melodieë en strelende harmonieë wat gedryf word deur lewendige kitare en instrumente.
Die 31-jarige sangeres het grootgeword in Oranjeville in die Vrystaat en was tot onlangs nog ‘n boekhouer by die plaaslike koöperasie. Sowat drie jaar terug was Sean Else en Johan Vorster in Oranjeville by die Water- en Wielefees en het hulle Lianie sommer daar en dan ‘n oudisie laat aflê, in die beste beskikbare plek, naamlik die seuns-badkamer! Mozi Records het daarvan gehou en sy is ‘n platekontrak aangebied.
Sy vertel dat daar soveel sangers is vir wie sy groot respek het, maar bo-aan haar lys is Steve Hofmeyr. Haar groot droom is om eendag ‘n duet saam met hom op te neem. Ander sangers wat haar inspireer is LeAnn Rimes, Shania Twain en Nianell.
Dis ‘n ver pad wat Lianie gekom het van optredes in skoolrevues tot die opneem van ‘n eie CD. Deesdae woon sy in Faerie Glen, Pretoria en wink daar ‘n rooskleurige toekoms vir haar.