Sport

Koue skrik nie hengelaars af nie

NORTHAM – Ten spyte van die bittere koue die afgelope naweek (tot -2ºC) het sowat 60 Northam Plats-hengelaars lyne natgemaak tydens die maandelikse hengelkompetisie by die Konsentrator-dam.
Tydens die kompetisie, wat Saterdag 7 Junie om 12:00 begin het en Sondag 8 Junie 12:00 ten einde geloop het, is 513 visse gevang, wat die skaal op 317,5 laat trek het. Die grootste vis die afgelope naweek is deur die 10-jarige penkop Theunis Heydenrych  gevang.
Dit was ‘n karp met ‘n gewig van 8,505kg en een van die grootste visse wat nog in die Konsentratordam gevang is. Naas dit was daar ‘n karp van 9kg en een van 13kg. Maar wat dit veral besonders maak is dat dié groot karp gevang is deur ‘n 10-jarige Penkop met ligte gerei.
Die vislyn had ‘n dikte van 0,20mm en ‘n breekkrag van slegs 4,5kg, amper die helfte van die gewig van Theunis se karp. Hy het sowat 10 minute gespook voordat hy die karp kon land.
Wenners tydens die kompetisie was Tokkie Burger (Senior Mans), Elsie Veldman (Senior Dames), Jaco Geldenhuys ( Juniors) en natuurlik Theunis Heydenrych (Penkop).