“Yster en Satyn” se Jaco by Landbouskou

THABAZIMBI – Die titel van Jaco Labuchagne se eerste CD “Yster en Satyn” word binnekort opgevolg met ‘n tweede CD, maar die belangrikste nuus vir Thabazimbiërs is dat hy by die Landbouskou van 31 Julie tot 2 Augustus optree.
Behalwe vir die country-rock klanke van sy “Yster en Satyn” CD, spog Jaco daarmee dat hy repertoire van 2000 liedjies het! Hy is baie gewild by skoue en informele venues soos pubs en restaurante.
Jaco het reeds met heelwat van die land se voorste sangers, soos Dozi, Kurt Darren, Mel Botes en Pieter Smith opgetree. Hy was ook verlede jaar by die KKNK, waar hy 24 opvoerings gegee het. Hy is daar genomineer vir Beste Nuwe Kunstenaar vir die Huisgenoot se Tempo-toekennings.
In 2006 was hy vierde in die kykNET Idols en het saam met die wenner, Dewald Louw, die land platgereis om hulle fans beter te leer ken.
Die 29-jarige Jaco is gebore en getoë in Secunda, opgelei as takelaar (rigger), maar musiek het gou ‘n leidende rol in sy loopbaan begin speel. Na sy optrede by kykNET Idols is hy opgeraap deur Sony/BMG wat sy eerste CD vrygestel het.