Sport

Thaba maak skoonskip in liga

THABAZIMBI – Thabazimbi het skoonskip gemaak teen Swartklip tydens Saterdag se ligawedstryd op Thabazimbi se baan en het sodoende ook ‘n bonuspunt verdien. Die span het bestaan uit Toppie Olivier, Denis Dreyer, Nico van der Westhuizen, Deon Azar, Piet Venter, Jakkie van der Wateren, Derek Torlage en Johan Prinsloo. Individuele wenners van die gekombineerde Stableford punte was Piet Venter en Jakkie van der Wateren (77). Tweede was R de Lange en P van Rooyen (72) van Mogol en G du Plessis en H Bense (69) van Amandelbult derde.
Op Coro Creek (Nylstroom) het Alta Venter, Louise van Graan, Maggie Hoffmann en Winnie Fourie gemengde sukses gehad in hulle damesliga en 7 punte uit ‘n moontlike 12 gekry. Op Pietersburg het die ander damespan, met ‘n speler kort, 5 punte verdien. Nita Barnard, Hannetjie Peschl en Jeanetta Rall het daar gespeel.
Eerskomende Saterdag is dit die Kampioen van Kampioene wat oor 27 putjies beslis sal word. Die eerste groot borgdag is op Saterdag 1 Maart. RealNet beloof ‘n groot geleentheid. Skryf asseblief betyds in.
Daar is nuwe reëlboekies beskikbaar by die klub. ‘n Baie interesssante byvoeging hierdie keer is ‘n opsomming van die vernaamste reëls met die nodige verwysings, wat dit maklik maak om op hoogte van die reëls te kom.
Baie dankie vir die positiewe reaksie van lede op die oproep tot dissipline ten opsigte van die beeld van die klub. Dit wys weer dat gholfspelers ‘n spesiale klas mense is.