Gaan kommersiële boere dié keer gehelp word?
TLU SA Limpopo se voorsitter, Fanie Havinga, sê in ʼn mediaverklaring dat die organisasie die aankondiging dat Limpopo een van die provinsies is wat tot rampgebied verklaar is na die onlangse vloede verwelkom.
“Uiteindelik het dit darem gebeur, nadat TLU SA Limpopo al sedert verlede jaar gepoog het om die provinsie tot rampgebied verklaar te kry na die verwoestende swartryp in Julie, die ewe verwoestende brande net daarna en die knellende droogte wat tot helfte Desember geduur het.
Ten spyte van gesprekke met belanghebbende owerheidsinstellings, het daar verder niks van gekom nie en boere moes maar probeer oorleef,” sê Havinga.
“Ons hoop werklikwaar dat daar hierdie keer werklik uitgereik word na kommersiële boere, aangesien ons in die verlede ervaar het dat kommersiële boere blatant oor die hoof gesien word as enige vorm van hulp ter sprake is
.“Eweso wil ons ʼn beroep doen op die finansiële instellings om simpatiek na die kommersiële boere, wat drie rampe binne een jaar moes verduur, se situasie te kyk en te help om hulle te laat oorleef ter wille van voedselsekerheid in die provinsie en die land.
“Indien kommersiële boere weer eens oor die hoof gesien gaan word en aan hulle eie lot oorgelaat gaan word, kan die aanbod van president Donald Trump van Amerika vir talle boere ʼn aanloklike opsie word, met verwoestende gevolge vir die land,” waarsku Havinga.



