Beurtkrag wurg sukkelende kleinsakesektor

Eskom is nou finaal besig om die laaste spyker in die doodskis van die kleinsakesektor in Suid-Afrika met ʼn 10-ton hammer in te moer.

Die stryd om oorlewing van die klein- en mikrosakesektor word misgekyk terwyl groter firmas soos fabrieke en inkopiessentrums met die hulp van eie kragbronne en kragopwekkers oëskyknlik normaal voortgaan met besigheid. Klein- en mikrosakeondernemings kan eenvoudig net nie tredhou met hierdie hoër fases van beurtkag nie.

Die finansieel sterk nasionalevlak firmas in Suid-Afrika bedryf hulle besighede teen groot addisionele kostes sodra beurtkrag inskop. Hulle is in die posisie om die kostes van die verbruiker te verhaal wat dan ook die rede is vir die skerp prysstygings wat Suid-Afrikaners sedert die inperkings bepalings weens die Covid-16 pandemie, en later aangejaag deur die onaanvaarbare vlakke van beurtkrag moet verduur.

Nuwe entrepreneurs wat tot die klein- en mikrosakesektor toetree asook bestaande entrepreneurs het nie die kapitale rugsteun van groot nasionalevlak besighede en die wat op die aandelebeurd genoteer is nie.

In die eerstewêreld ekonomië, waarvan Suid-Afrika saam met Australië en Nieu-Seeland ook eens gesorteer het met Suid-Afrika wat reeds lank gelede uit die bus geval het, word gereken dat mikro-, klein- en mediumsakeondernemings verantwoordelik is vir twee derde van die totale werksgeleenthede in die land se ekonomie en 60% tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP – GDP) bydra. Dit maak hierdie sektor die grootste werkskepper in hierdie lande se ekonomië en dit is dan ook die sektor wat die meeste inkomstebelasting aan die staat betaal.

Die hoë werkloosheidsyfer van oor die 40% wys dat die rol van die kleinsakesektor tot werkskepping in Suid-Afrika onbenullig geag word en ook in welke mate hierdie sektor oor die afgelope 30 jaar gekrimp het.

Ry maar net op die trein op die enkele oorblywende treinspore wat nog nie gesteel is nie vanaf Johannesburg suidwaarts deur die stad se industriële voorstede soos Jeppe en sien hoeveel fabrieke al langs die treinspoor leegstaan. Al hierdie fabrieke het ʼn rol gespeel om destyds van Suid-Afrika ʼn eerstewêreldmoontheid te maak.

Die populistiese ANC regering wou so graag van Suid-Afrika ʼn welsynstaat maak waar mense nie hoef te werk nie. Ongelukkig maak die sosialisties-kommunistiese model wat aan hulle voorgehou is nie voorsiening vir sulke weelde nie en is Suid-Afrika word nou ʼn ontwikkelende land gereken waarvan die ekonomiese beleggingsgradering op die ashoop beland het.

In teenstelling met die werklike rol van die kleinsakesektor reken die huidige regering dat hulle die grootste werkskepper moet wees. Die enigste rol wat die regering in werkskepping moet hê is om gunstige toestande deur wetgewing te skep waardeur al die sektore meer effektief kan funksioneer en kan bydra tot ekonomiese groei en welvaart vir die totale bevolking.

Intussen is hierdie sektor se grootste vyande die regering met hul onderdrukkende arbeidswette en belasing asook die banke met hulle ongenaakbare houding teenoor kleinsake entrepreneurs en hul besighede. (Verwys vorige kommentaar oor banke wat die waarde van besighedisgeboue in privaatbesit kunsmatig onderwaardeer en geen realistiese verbande toestaan op die aankoop van sulke geboue nie.)

Buiten die regering en finansiële instansies se afwesigheid vir ondersteuning vir hierdie sektor neem dit jare om ʼn nuwe besigheid tot stand te bring met al die entrepreneur se spaargeld tot wat gewoonlik aangewend word en dan nog ʼn paar jaar voordat dit ʼn wesenlike wins toon.

Dit is anders as die “Fly by Night” besighede wat die potensiaal raaksien in ander besighede in sy eie omgewing en op die sukses van hierdie besighede kapitaliseer deur sogenaamde “beter diens” teen ʼn “beter prys” te lewer, ten koste van die bestaande besighheid. Die beter diens omvat gewoonlik nie die volledige omvang en risiko van die bestaande besigheid nie, slegs die winsgedeelte. Dit behels selde werkskepping en nog minder dra dit by tot die ontwikkeling en instandhouding van plaaslike infrastruktuur en belasting.

Kwêvoël is gedurende sy bestaan oor die afgelope 40 jaar by verskeie voorvalle hiervan betrek. Eerstens in twee gevalle waar sy eie personeel hul eie koerante begin het en in ander gevalle deur individue wat advertensieboekies uitgebring wat geen nuus dra nie en dus geen oorhoofse kostes het soos eie perseel met joernaliste, proeflesers en uitlegkunstenaars nie (buiten drukkoste en iemand wat advertensiese ten koste van inkomste van Kwêvoël verkoop het) en bloot op die rug van Kwêvoël se sukses gery het.

Die voordeel om geen vaste maandelikse oorhoofse kostes te moet dra nie kan juis die rede wees dat van die “Rugryers” die nadelige inperking oorleef het aangesien hulle geen lopende uitgawe het nie en daarna eenvoudig net weer met hulle bedryf kon voortgaan.

Met digitale promosies wat nou die toon aangee is dit verbasend dat soveel besighede steeds die uitgewers van gedrukte media glo dat alle gedrukte koerante en advertensieblaadjies wat versprei word wel in iemand se hande eindig.

Intussen het hulle die advertensiesbedryf ʼn erge knou toegedien aangesien hulle met hul vry uitgawes geen terugvoering kan gee oor werklike lesergetalle nie. Nieteenstaande dit het die besighede wat hulle goedkoper en onbetroubare weg gekies het, uiteindelik hul advertensies onttrek en glo nou vas dat advertensies nie werk nie.

Die opgang van die internet en Facebook het aan hulle die alternatief gegee om hulle eie bemarking te doen, wat ook nie werk nie aangesien hulle nie eens hulle eie Facebookbladsye kan behartig en terugvoering ontleed nie.

Talle besighede wat as mikro-ondernemings tydens die inperking begin het, was lewensvatbaar en het gegroei tot volwaardige kleinsakeondernemings wat vanaf hulle huise na sakepersele geskuif het om hul besigheid te bedryf.

Weereens moet hierdie entrepreneurs die finansiële krisis, aangeblaas deur erge beurtkrag, in die gesig staar. Alhoewel die besigheid gegroei het, is daar steeds nie die kapitaalvloei om addisionele uitgawes soos kragopwekkers of sonpanele, wat nou ʼn noodsaaklikheid geword het om jou besigheid te kan bedryf, aan te koop nie. Buiten dit ervaar almal verliese met elektriese en elektroniese toerusting wat weens die voortdurende aan- en afsit met die onbeplande kragonderbrekings skade opdoen.

Dit is veral restaurant en kleinskaal voedsel handelaars wat met die dilemma sit van ys- en vrieskaste wat nie net vir die beplande twee ure afgaan nie maar met tye tot agt ure in ʼn tien uur siklus sonder krag mag sit.

Dink ook maar aan haarsalonne en haarkappers wat sonder die gerief van haardroërs en elektriese knippers oor die weg moet kom; skoonmaakdienste wat nie stofsuiers en poleerders kan gebruik nie; launderette wat sonder wasmasjiene en tuimeldroërs wasgoed moet was; musiekfeeste en dergelike vermaaklikheidsplekke wat slegs met die bystand van duur kragopwekkers kan funksioneer en talle ander bedrywe.

Voeg hierby die chaos met besprekings en bestellings as die netwerke van lyn af is om nie te praat van klein fabrieke en drukkerye wat al hulle krag-honger masjiene en drukperse moet afsit vir die duur van die kragonderbreking nie. Dit lei tot erge produksieprobleme proporsioneel tot die duur van die kragonderbreking, sonder inagneming van die tyd wat dit neem om die fabriek of bedryf weer aan die gang te kry na elke kragonderbreking.

Sover dit bakkerye en kleinskaal Kraft Bierbrouers aan betref moet die hele baksel of brousel vernietig moet word wanneer daar nie ondersteunende krag was tydens die proses nie. ʼn Restaurant kan ook nie net eenvoudig ophou om disse te bedien as hulle nie meer oor stowe, yskaste en al die elektriese toerusting in die voorbereiding van kos beskik nie.

Met elektronika wat so ʼn groot rol in die motorindustrie speel kan mens maar net wonder hoeveel van die diensverskaffers nie hul toerusting kan gebruik om probleme met die enjins te identifiseer of om instellings te doen nie.

Elke kragonderbreking lei tot verlore manure vir die duur daarvan. Die verlore produksie moet verhaal word en dit gaan gepaard met oortydbetalings wat ten alle tye teenproduktief is.

Die meeste van hierdie bedrywe is deel van die mikro-, klein- en mediumsakesektor en dit is juis hulle wat die grootste knou weg het met die talle onbeplande kragonderbrekings.

Die nuwe term van “Load Reduction” is maar net nog ʼn foefie van Eskom en die ANC as buffer teen hulle totale onvermoë om enige vorm van dienslewering te kan behartig.

Die feit dat Eskom so lank geneem het om in duie te stort wys net op die top infrastruktuur wat die ANC oorgeneem het toe hulle aan bewind gekom het en regstellende aksie wat die toekomstige weg na totale verval aangewys het.

Hierdie is ʼn tragedie wat hom daaglike teen stadige spoed in elke dorp en stad in Suid-Afrika afspeel. ʼn Nasionale ramp wat veroorsaak is deur doelgerigte swak beleidsbesluite, grootskaalse korrupsie en ʼn totale disfunksionele ANC regering.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (Sedert 1983)

Addissionele bron