CommunityFeatured

Kremetart se wortels strek ver die verlede in

Ysterberg Voortrekkers het op 5 Februarie 2022 die voorreg gehad om sekerlik die mees geskiedkundige boom in die Thabazimbi distrik op die plaas Mowana, te besoek.

Dit is natuurlik die bekende Kremetart Boom waarvan die wortels nog president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaanse republiek se spore vasgevang het hier in die bosveld op die plaas Gannahoek waar hy gereeld gejag het. Hierdie kremetartboom is die mees suidelikste kremetart wat natuurlik aangetref word en wat nie aangeplant is nie.

Met die besoek het die Voortrekkers sommer ook gedeel in ‘n stukkie geskiedenis uit ons eie omgewing. Mowana behoort aan mnr Spencer en is deel van die oorspronklike plaas Gannahoek.

Al is Dwaalboom sowat 60 km verder noordwes het hierdie “verdwaalde” boom glo aanleiding tot Dwaalboom se naam gegee – so sê die “mense wat weet”.

Dié kremetartboom het ‘n groot holte in die middel van die stam wat ‘n redelike veilige en beskutte bergplek vorm en is glo in die Anglo Boereoorlog as ‘n posbus gebruik. Op die stam, in die bas gekerwe is daar baie “graffiti” te sien tot in die hoogste takke. Die oudste datum wat die Voortrekkers op hierdie uitstappie kon uitmaak was 1907. Aangesien baie jagters gedurende die negentiende eeu by die boom kamp opgeslaan het, is daar wel tekens dat daar nog ouer datums kan wees wat nie te duidelik was nie.

Ysterberg Voortrekkers bedank hul fotograwe vir die puik foto’s. Tanja Wolfaardt en Nelia Pieterse Asook vir die Oordleier, Bernard Nelson wat van Rustenburg af gery het om die geleentheid saam hulle te kon geniet.

Soos die grondpaaie in die distrik maar geken word na sulke milde reën, was daar ‘n paar diep waterpoele en los sand in die pad waardeur die voertuie moes ploeter en het ‘n bietjie tot die opwinding van die rit tot by die afdraai na die plaas bygedra.

Ysterberg Kommando sê dankie aan elkeen wat gehelp het met vervoer en bereid was om dit te waag uitgaan met die dag se onvoorspelbare weer. Dit het ‘n baie mooi dag uitgedraai!