EditorialFeatured

Drie sterf toe boot oor damwal tuimel

Drie mense, waaronder ’n 11-jarige seun, het Dinsdag gesterf nadat die boot waarin hulle op die Mokolodam net buite Lephalale gevaar het, oor die dam se oorloop sowat 50 meter na benede gestort het. Die dam is tans 104% vol.

Die seun, Ruan van der Merwe, het saam met ander kampeerders, Mof (60) en Mariëtte Weber (55), die middag omstreeks 17:00 met hulle op hul rubberboot ’n draai op die dam gaan ry. Ruan se ma, Erika en haar man, het vroeër die week saam met Ruan by die Mokolodam langs die Weber-egpaar kampeer.

Daar was deurentyd mense wat met bote uitgegaan het. Toe die bote begin terugkeer het, was die Weber egpaar se boot nie onder hulle nie.

Van die ander bote het deur die nag uitgegaan om na die vermiste boot te soek en die soektog is die volgende oggend uitgebrei na die gebied onderkant die damwal.

Lede van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum het die oggend vroeg op Ruan se lyk afgekom waar dit sowat 2 km vanaf die damwal tussen riete en rotse op die oewer van die Mokolorivier vasgespoel het. Die Weber egpaar se lyke is Donderdag in min of meer dieselfde omgewing gevind.

Daar word vermoed dat die sterk stroom by die oorloop die boot meegesleur het voordat dit saam met die sterk stroom water oor die oorloop gespoel het.

Beide Mof en Mariëtte Weber was vir sowat 30 jaar as onderwysers aan Hoërskool Ellisras verbonde.

Hooffoto: Heritage Protection Group