CommunityFeatured

Originals MCC motorfietsklub maak harte oop vir behoeftiges

Die Originals Motor Cycle Club van Thabazimbi het Sondag ’n grootse poging aangewend om bederfbare en nie-bederfbare voedsel items wat hulle ingesamel het aan die organiseerders van die Sopkombuis op Thabazimbi te oorhandig.

Talle lede van die klub asook besoekers van buite Thabazimbi het op hul motorfietse by Die Plaasjapie Restaurant op Thabazimbi bymekaargekom om die goedere op ’n gesellige wyse te oorhandig.

Die Sopkombuis sorg vir sowat 300 mense, groot en klein, en voorsien hulle daagliks van kos en kospakkies sowel as klere en nodige medikasie. Hierdie is mense waarvan die meeste werkloos is en afhanklik is van SASSA uitbetalings.

Die organiseerder van die Sopkombuis, Sanet, het tydens die geleentheid al die motorfietsryers bedank vir hul mildelike bydraes. Sy het ook verder daarop gewys dat dit nie net kos is wat betrokke is nie, maar dat hulle ook op eie onkoste diegene vir wie hulle sorg na ’n dokter sal vergesel indien daar siekte is. Netso sien hulle om na die ander behoeftes soos klere en skenkings hiervan is altyd welkom.

Sy het ook genoem dat elke kind se verjaarsdag aangeteken is op hulle lêers. Elke kind wat verjaar, ontvang op sy verjaarsdag ’n spesiale verjaarsdagkoek.

As in ag geneem word hoeveel mense tydens die Covid inperking hul werk verloor het kan mens sien hoe groot hierdie probleem in ons eie gemeenskappe is.

Alle skenkings van kos en klere is voortdurend nodig. Indien jy kan help kan dit by Eerstelaan 14 Thabazimbi afgelaai word waar een van die helpers dit in ontvangs sal neem.

Die lede van die Originals MCC is voorwaar ’n gesellige klomp mense met ruim harte en tydens die geleentheid is daar lekker saam gekuier.

’n Ligte ontbyt wat bestaan het uit die heerlikste pap en maalvleisbredie is bedien terwyl diegene wat eerder langer wou kuier etes van die wye verskeidenheid braaivleissnitte en bykosse kon bestel.

Neem ook weereens kennis dat Die Plaasjapie Restaurant oor die Kersnaweek gesluit gaan wees vanaf 15:00 Vrydag 24 Desember tot Maandag 27 Desember.