Naweek-Kommentaar: Jongmense meer ondersoekend as gereken
Min besighede en lesers besef die waarde van die statistieke wat uit sosiale media plasings verkry kan word.
Statistiek wat die afgelope tyd op Kwêvoël se Facebook bladsy beskikbaar is toon dat die jonger mense, ouderdomme 18 tot 34, baie meer ondersoekend die internet en Facebookplasings bestudeer as wat die ouer garde van lesers doen. In Kwêvoël se geval word die meeste plasings en inligting nie op Facebook gepos nie, dit op die Kwêvoël tuisblad, gewoonlik met verwysing na die bron indien inligting uit ’n ander plasing geleen word.
Verwys na die grafieke hieronder. Soos gesien kan word, is dit ’n redaksioneel en ‘n advertensieplasing met die ouderdomme asook die geslag van lesers wat duidelik as hoofsaaklik vrouens/mans van ouer as 50 jaar geïdentifiseer word. (Groen – Mans; Blou – Vrouens – sellekteer grafiek om dit oop te maak)
In die meeste gevalle word daar, dalk nie sonder rede nie, na jonger sosiale media gebruikers verwys dat hulle net in mekaar se doen en late belangstel met foto’s en teks wat uitgeruil word.
Die volgende grafieke wys dieselfde inligting na die plasing van ’n YouTube gesprek met Emile Stipp, Hoof aktuaris van Discovery. Stipp se werk behels die samestelling en analise in die berekening van die versekeringsrisiko’s verbonde aan die bedryf, asook ’n grafiek van Medhof Apteek se advertensie oor aknee en raad daarmee. Kyk hier na die ouderdomme wat bereid was om die pos oop te maak en meer inligting daardeur te verkry. Dit is duidelik dat die belangstelling groot is onder die jongmense en amper ontbrekend is by die ouer garde.
Met sosiale media word die hele konsep van fisiese sosiale omgang deur die selfoon of tablet vervang. Dit kan daartoe aanleiding gee dat allerhande samesweringsteorieë vinnig versprei met poste wat deur sogenaamde professionele kenners op verskeie gebiede as die waarheid voorgehou word en deur die sosiale media gebruikers verslind word. Hierdie “kenners” kan in baie gevalle met oorsese regse groepe verbind word vir wie alles wat in die wêreld verkeerd kan gaan direk aan ’n komplot deur die onderskeie moondhede of regerings verbind kan word. Amerika is ’n uitstekende voorbeeld van hierdie tipe van samesweringsteorieë soos die ‘Pienk Agenda’ wat selfs in Suid-Afrika inslag by sommige kerkgroepe gevind het.
Net so kan Suid-Afrikaners onthou van die storie wat deur die ANC die wêreld ingestuur is dat die destydse Openbare Beskermer, Thuli Modansela, ’n Amerikaanse geheime agent is wie se taak dit was om ’n ‘Poppekasregering’ (Puppet government) in Suid-Afrika daar te stel.
Nog vroeër in 1986 was daar die Tupolev Tu-135 vliegtuigongeluk op Suid-Afrikaanse grondgebied op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek waartydens die destydse Mosambiekse President gesterf het en waar Suid-Afrika die skud gekry het dat met opset die vliegtuig met vals radioseine in die onherbergsame gebied ingelei het waar die ongeluk plaasgevind het. Om nie te praat van die Helderberg vliegtuigramp in 1987 waar ’n 747 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens in ’n vuurbal in die Indiese Oseaan neergestort het. Blykbaar as gevolg van ontstabiele plofstof wat die destydse regering die land wou insmokkel op ’n vliegtuig wat ook ’n klomp vuurwerke aan boord gehad het.
Min mense doen die moeite om hierdie inligting na te vors eerder as om die mening van plaaslike kenners of persone in posisies waar die waarheid na vore tree aan te hoor.
Die oudste samesweringsteorie is sekerlik dat die aarde plat is. Dit was tydens die tyd van ontdekkertogte met klein seilskepe en hiervolgens het matrose vas geglo dat die skepe in die nietigheid gaan instort sodra hulle die einde van die aarde bereik. Nieteenstaande alle bewyse dat dit nie die geval is nie, het hierdie teorie gedurende die 19de eeu weer begin opleef en daar is steeds verskeie webtuistes wat dit steeds propageer. Hul nuutste verweer is dat vliegtuie se GPS–stelsels ingestel is om by vlieëniers die indruk te skep dat hulle om ’n sfeer vlieg.
As gevolg van ’n samesweringsteorie wat sedert die midde-eeue versprei is, is Jode vervolg aangesien hulle die drinkwaterbronne sou vergiftig in hul strewe om die wêreld te regeer.
Netso moes die Vrymesselaars verdryf word aangesien hulle in die geheim sou saamsweer om verskeie lande se ekonomieë oor te neem. Dit terwyl die Vrymesselaars ’n groep van vakkundige bouers was wat in ’n organisasie saamgebind was om hul vakgebied en lede te beskerm. Mens hoef maar net na die klip- en messelwerk van ou geboue wat uit die vroeë geskiedenis van Europa dateer om te besef wat se kunstenaars hierdie bouers in werklikheid was. Heelwat later is die Vrymesselaars ook beskuldig dat hulle ’n aandeel daarin sou gehad het dat die Titanic gesink het.
Die Illuminati, ’n geheime organisasie wat gedurende die 18de eeu ’n kortstondige bestaan gehad het, was volgens destydse samesweringsteorieë verantwoordelik gehou vir die Franse Rewolusie (1789 – 1799). Gedurende 1960 het ’n groep Amerikaanse grapmakers onder die naam van ‘Discredians’ ’n reeks briewe aan die sekstydskrif Playboy gestuur wat dit dan ook publiseer het. Hierdeur het die Illuminati nuwe lewe gekry.
Die rol van die sogenaamde ‘Geldmag’ is duidelik uitgespel en het ook ’n rippeleffek onder die regse gemeenskappe in Suid-Afrika veroorsaak. Ek twyfel of die plaaslike verkondigers van die Illuminati ooit die bron van hulle inligting nagevors het? Dit laat jou wonder hoe die regse groepe hul inligting gekry het want Playboy was voorheen in Suid-Afrika verban, of was daar ’n paar vromes wat tog die kat in die donker geknyp het en daardeur hul bydrae tot hierdie samesweringsteorie gelewer het?
Ons praat dan nie eens van diegene wat die skeppingsverhaal ten volle aanvaar as die enigste en volle waarheid teenoor ewolusie. Op hulle webwerwe is die verweer teen die bestaan van fossiele dat die skepper dit aspris daar geplaas het om die mense se geloof te toets as dit ontdek sou word. Ook is dit baie twyfelagtig dat die aarde eerder sesduisend jaar oud is in plaas van die meer as 4 540 miljoen jaar soos wetenskaplik vasgestel deur die ouderdom van die oudste rotsformasies te bepaal.
Die nuutste vlaag van samesweringsteorieë is aan ons almal in Suid-Afrika baie goed bekend. Miskien is dit die hoofoorsaak dat die derde vlaag plaaslik voortduur met baie meer sterftes, anders as in ander lande waar sedert die inenting veldtogte afgeskop het en die derde vlaag infeksies gekenmerk is deur ’n totale afplatting in sterftesyfers. Plaaslik ken die persoon op Facebook mos iemand wat ’n vriend het wie se aangetroude niggie se man gesterf het nadat hy die inenting ontvang het. Geen name word genoem want dit is mos nie belangrik nie – net die feit dat die man dood is. Sulke gevalle is wel moontlik en word ook nie ontken nie. Dit is baie seldsaam en kan gebeur indien iemand die Covid-19 virus onder lede gehad het ten tye van die inenting en ook aan een of ander onderliggende kwaal soos diabetes, HIV of tuberkulose ly of hartprobleme het. Vetsug kan ook ’n bydraende faktor wees.
Die spesifieke plasing is steeds op Kwêvoël se tuisblad beskikbaar. Indien jy dit nog nie oopgemaak het nie, wys jy het ook die durf wat ons jong mense het en luister na iemand wat direkte ondervinding het wat in hul hospitale gebeur en nie met iemand met wie se oom se tannie se stief-kleinniggie se oupa gebeur het nie.
Met ‘n advertensie by Kwêvoël identifiseer jy jou teikenmark – Kwêvoël lewer dit aan jou teikenmark.