Kommentaar – Groot verantwoordelikheid-gaping tussen gemeenskappe
Die onlangse plundery en opstande in Suid-Afrika het die groot gaping beskryf tussen die gemeenskappe wat verantwoordelikheid geneem het om hul eiendomme en plaaslike infrastruktuur te beskerm en die wat dit geplunder en probeer vernietig het.
Dit is duidelik dat die betrokkenheid, en die daarmee gaande paraatheid, van gemeenskappe om besighede en infrastrukture teen plundering en beskadiging te beskerm meer gedoen het as wat die totale polisie- of weermag, wat in hul afwesigheid by die brandpunte geskitter het, kon vermag.
Aangesien niemand die totale omvang van die onluste en plundering wat hoofsaaklik tot KwaZulu-Natal, Gauteng en later Noord- en Oos-Kaap beperk was, kon voorspel nie, het die Thabazimbi Gemeenskap Polisiëring Forum, nes verskeie plaaslike gemeenskapsorganisasies in geordende gemeenskappe, op plaaslike vlak na vore getree en met vrywilligers begin om gereelde patrollies in die dorp te onderneem om probleempunte vroegtydig te identifiseer in geval van moontlike optrede. ’n Spesiale kantoor is ingerig waar noodsituasies of verdagte beweging van persone aangemeld kan word.
Baie dorpies aan die Natalse Suid-kus moes sonder polisie betrokkenheid uitspring om hul eiendomme te beskerm. So was die rustige Umkomaas, waar ek sowat sewe maande van my gedwonge ballingskap vanuit Thabazimbi deurgebring het, ook nie onaangeraak nie. Die hardeware winkel en die apteek langsaan, in die sentrale besigheidsgebied was goed bekend aan my en is deur die ‘honger massas’ totaal geplunder en leeggesteel van alles wat daarbinne was.
Die uitgebrande besighede van inwoners wat reeds vir dekades ‘n diens aan die Umkomaas en omliggende gemeenskappe lewer. Hierdie apteek op Umkomaas is leeggesteel en die binnekant verwoes. Daar is selfs oral in die plek ge-urineer. Die suidelike ingan na Widenham (Umkomaas) waar inwoners die pad met boomstompe afgesper het om toegangbeheer vir voertuie toe te pas.
Beide is ou gevestigde besighede wat aan Indiërs behoort. Dieselfde het met die Indiër algemene handelaar bietjie hoër op in die straat gebeur. Inwoners het onmiddellik gemobiliseer, toegang tot die dorp versper en die brug oor die Ukomaasrivier beveilig om te verhoed dat die plunderende massas verdere toegang tot die dorp kan verkry. Deur hierdie aksie het hulle verdere plundering in die dorp voorkom totdat die polisie opgedaag het en die versperrings wat inwoners geplaas het om beter toegangsbeheer uit te oefen verwyder het. Nieteenstaande dit het inwoners mekaar by hierdie toegange afgelos om die res van die inwoners se veiligheid te verseker.s
Die een uitvloeisel hiervan is dat die Indiër apteker-eienares wat aan nege mense, waarvan agt plaaslike swart mense was, werk verskaf het nou besluit het om die besigheid te sluit en by haar dogter in Gauteng te gaan woon.
KwaZulu-Natal en Gauteng is die ergste deur hierdie plundering en onluste geraak met miljarde rand se skade wat aan geboue eiendom en ander infrastruktuur aangerig is. Dit terwyl die polisie en weermag in hul afwesigheid geskitter het om enigsins weerstand teen die plunderende massas te bied.
Dit was nie net yskaste, TV’s en mikrogolfoonde wat geplunder is nie maar alles wat daar was, bederfbare kosprodukte ingesluit, wat van die rakke af verwyder is waar die talle inkopiesentrums en kruideniersware winkels geplunder is. Ewe skielik moes die wetsgehoorsames saam met moontlike plunderaars in dieselfde rye wag om kos by die oorblywende supermarkte te koop sodra nuwe voorraad ontvang word.
Alles het begin by 35 vragmotors wat met hul waardevolle vragte op pad tussen KZN en die binneland uitgebrand sonder dat daar enige sigbare polisie teenwoordigheid was. Beelde van die totale vernietiging, plundery en grootskaalse diefstal is landwyd op sosiale media versprei sonder enige wetstoepassers wat weerstand bied. Selfs die president was traag om enige stappe aan te kondig, kompleet as hulle selfvoldaan die vernietiging deur onopgevoede en duidelik ontembare massas gadegeslaan het.
Die betrokke ministers het net so in hulle afwesigheid geskitter en eers reageer toe die skade reeds aangerig is en steeds niks gesê wat sin maak nie. Almal weet dat hierdie onluste en plundering niks met Zuma se arrestasie te doene gehad het nie, maar eerder ’n poging van die Zuma-Magashule alliansie was om ’n eensydige staatsgreep van binne die ANC-geledere van stapel te stuur in ’n poging om die land onregeerbaar te maak.
Volgens die DA se skaduminister van Staatsveiligheid, Dianne Kohler Barnard: DA-LP is daar sowat 45 000 besighede wat wil eis vir hulle verlies van voorraad en infrastruktuur van meer as R16 miljard en, terwyl die rookwolke effens gaan lê, is die groot vraag: wie moet blameer word? Alle oë is op die Staat se sekuriteitnukleus naamlik die Polisie, Staatsveiligheid en die Weermag gerig vir antwoorde.
Hierdie departemente moes bewus gewees het van die dreigende pamflette wat op sosiale media versprei is wat datums sowel as die plekke van die onderskeie protesaksies en plundering vooraf verskaf het. Tog, om die minister van verdediging aan te haal, “ons was met ons broek op ons knieë gevang”. Spesialiste eenhede om kubermisdaad te ondersoek bestaan maar het oënskynlik niks gedoen nie. Sowat 90 persent van die inligting wat vooraf op sosiale media versprei was, was uiteindelik as korrek bewys.
Eers toe die inkopiesentrums aangeval is, het die weermag begin om pogings aan te wend om sleutelteikens soos raffinaderye en ander sensitiewe sentra te beveilig en die inkopiesentrums aan hul eie lot oorgelaat.
Vrydag 16 Julie het die DA aangedui dat hy klagte van hoogverraad en terrorisme teen die aanhitsers van die onluste en die vlaag van vernietiging in Kwa Zulu Natal en Gauteng aanhangig gaan maak.
Verskeie individue wat hulself as deel van verskeie ANC takke in KwaZulu-Natal geïdentifiseer het, het hulle as sulks op sosiale media geïdentifiseer en deur hulle boodskappe hulle doel bekend gemaak naamlik om die huidige regering te destabiliseer en uit hul posisie te verwyder. Die Suid-Afrikaanse wet is baie duidelik dat dit wat hierdie individue gedoen het hulle aan hoogverraad skuldig maak. Dan is daar ook nog die meer as 200 mense wat tydens die plundery eenvoudig doodgetrap is. Wie gaan vir hierdie lewensverlies verantwoordelik gehou word?
’n Verslaggewer vanuit Ballito skryf dat hulle sekuriteit koördineerder, wat inderhaas aangestel is, hulle die Dinsdagoggend meegedeel het dat alle pogings om ondersteuning van die polisie, die weermag en die plaaslike ANC strukture te verkry misluk het. Hulle was op hulself aangewese.
Binne 24 uur was daar ’n funksionerende Ballito Operasionele Bevelspos, al die kontrolepunte was beman, wettige gewapende spanne het patrollie gedoen, ’n eersteklas kommunikasie stelsel deur die gebruik van mobiele selfoon toepassings was in plek en hommeltuie, wat met infrarooi kameras toegerus was, was in die lug.
Wagte het die mobiele selfoontorings, elektriese substasies en verskeie waterpunte beskerm. Spesiale plakkers is aan nood- en sekuriteitspersoneel uitgedeel om hulle bewegings te vergemaklik.
Teen dag drie het gewapende konvooie noodsaaklike kos, medisyne en brandstof begin inbring. Sodra voorrade ingekom het, het burgerlikes ordelik in toue vir ure gewag om hul 20 items by die supermarkte te koop of R300 se brandstof in te gooi. Geen paniek en niemand het gekla nie, almal bewus van die feit dat niemand gaan opdaag om hulle te help nie. Hierdie verskaffingslyn is vir ses dae gehandhaaf met die staat wat in sy totaliteit afwesig was.
Geen vordering sal in sommige gemeenskappe gemaak word indien die kritiese morele verval waar andersins goed gebalanseerde mense verkies het om eerder by die plunderaars aan te sluit as die mense wat dit probeer verhoed het, nie aangespreek word nie.
Uit Nottingham Road, een van die skilderagtige dorpies en ook een van die dorpies wat die hardste deur die geplunder getref is, het ’n inwoner verwys na die afgelope tyd se berigte van verraad, opstand, aanhitsing en donker magte wat almal se denke oorheers het, die opmerking gemaak dat al die frustrasie wat oor 27 jaar opgebou is deur die onverskilligheid, gevoelloosheid en onbevoegdheid ten opsigte van dienslewering begin oorkook het met al die groot huise wat opgerig word vir burgemeesters en plaaslike regeringsamptenare wat hopeloos te veel geld verdien.
As dit nie was vir die sowat 100 000 nie-regeringsorganisasies (NGO’s) wat regdeur Suid-Afrika aktief is en die plaaslike gemeenskappe wat omgee nie, sou die toestand van die meeste inwoners van swart voorstedelike dorpe (townships) asook die toestand van dié dorpe se infrastruktuur aansienlik swakker daaraan toe gewees het. Die hoop word ook uitgespreek dat na al die vernietiging die regering sal besef dat daar heelwat skaafwerk aan die onbevoegde plaaslike regerings gedoen moet word.
Selfs vanuit die swart gemeenskappe kom die kommentaar dat die gebeure van die voorafgaande week niks anders was as ekonomiese sabotasie is en vergelyk kan word met ’n verraderlike staatsgreep. Almal sien en gaan gebuk onder die mislukkings van die staat wat ook nie verantwoordelikheid kan aanvaar nie en aanmekaar verskonings maak.
Dit is duidelik dat ons hier te doen het met ’n baie onstabiele gemeenskap wat die polisie totaal onbevoeg is om te hanteer asook ’n weermag wat blykbaar net regsit om die landsgrense te verdedig. Sekerlik het die tyd aangebreek dat ’n gedeelte van die weermag as ’n vredesmag opgelei moet word om die polisie te ondersteun.
Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (Sedert 1983)