DA dien klagtes in teen Zuma-kinders, Malema
Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan vandag klagtes van aanhitsing tot geweld teen vier persone aanhangig maak. Die geweld het ge-eskaleer tot dae van onluste en onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng.
Volgens die DA-skaduminister vir Justisie en Korrektiewe Dienste, Adv. Glynnis Breytenbach DA LP, gaan die DA kriminele klagtes aanhangig maak teen drie lede van die Zuma familie naamlik Duduzile Zuma-Sambudla, Edward Zuma en Duduzane Zuma asook die EFF leier, Julius Malema.
Gedurende die week sedert die inhegtenisname van Jacob Zuma het sy dogter, Duduzile, haar tot sosiale media gewend en ’n aantal tweets gepos waarin die geweld en plundering van besighede, wat tot die ontwrigting in KwaZulu-Natal en Gauteng aanleiding gegee het, aangemoedig is. Hierdie ontwrigting het reeds ook na ander provinsies oorgespoel.
Netso het Edward Zuma se tweets gelui dat enige wetstoepassings instansies eers sy toestemming moet kry voordat hulle sy pa arresteer. Hierdie opmerkings word as aanhitsing en roekeloos geag.
’n Video waarin Duduzane Zuma sweer dat hy sal veg om sy pa uit die tronk te bevry is ook op sosiale media versprei.
Die aanklag teen Julius Malema is dat hy gedreig het om tot die anargie op die strate by te dra sou die Suid-Afrikaanse Weermag ontplooi word en het die ontplooiing bestempel as ’n oorlogsverklaring teen burgers in plaas van ’n poging om wet en orde te handhaaf. Sy radikale opmerkings aangaande die Indiër gemeenskap kan ook aanleiding gee om rassespanning verder aan te hits.
Die DA versoek die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) asook die minister van Polisie, Bheki Cele, om teen die Zuma kinders en Malema op te tree en te verseker dat hulle krimineel aangekla word vir aanhitsing tot geweldpleging asook vir hulle oorlogspraatjies.
Indien nagelaat word om dit te doen, sal dit die Zumas, Malema en andere verder aanhits tot oproerige uitlatings deurdat hulle reken dat hulle nie bekommerd oor die gevolge van hulle uitlatings hoef te wees nie.
Read the DA media editorial here
Die DA het verder daarop gewys dat president Cyril Ramaphosa tot dusver baie min in sy vorige toespraak deurgegee het wat dui op enige sigbare aksie om die geweld, plundering en vernietiging van eiendom te bekamp.
Daar was ook geen aanduiding oor waar en in watter mate die SA Weermagpersoneel ontplooi gaan word nie, asook geen vorderingsverslag van Nasionale Kriminele Intelligensie nie. “Dit is duidelik dat die president en die regering geen werklike plan het nie en dat Suid-Afrika se inwoners hulself teen die massas onrusstokers en plunderaars sal moet verdedig.”
“Die land is letterlik aan die brand en baie Suid-Afrikaners het alles wat hulle gehad het in die plundering verloor terwyl baie werkgeleenthede vernietig is.”
Die DA sê verder dat alhoewel die party alle pogings om die geweld onder beheer te bring en om wet en orde te herstel in beginsel goedkeur, is die situasie toegelaat om tot op hierdie punt te ontwikkel as gevolg van wetstoepassings instansies wat nagelaat het om vroeg beheer oor die situasie te neem en hulle werk te doen, die werk wat hulle ingevolge die grondwet verplig is om te doen.
Die weermag kan nie slegs as verhewe lyfwagte ontplooi word nie. Hulle werk is om die SA polisiedienste te ondersteun in wetstoepassings-operasies.
Die DA doen ’n beroep op president Ramaphosa om vir die regte van die wetsgehoorsame burgers op te staan en met ’n sterk en definitiewe aksie-plan voor die dag te kom on hierdie stropers en kriminele vas te vat asook om die skade wat die ANC se voortslepende binnegevegte veroorsaak te beëindig.