DA: Agterbaksheid van ANC/EFF koalisie om howe te systap om grond te nasionaliseer is verwerplik
Die Voorsitter van die DA se Parlementêre Koukus en parlementslid, dr Annelie Lotriet sê in ‘n media vrystelling dat die ANC/EFF “koalisie van die irrasionele” ’n drastiese volgende stap geneem het in hul strewe na onteiening sonder vergoeding deur voor te stel om grond onder staatstoesig te plaas.
Hierdie wysiging is Maandag, 31 Mei, ter elfde uur op die multi-party ad hoc parlementêre komitee oor die wysiging van die “Eiendomsklousule” (Artikel 25 van die Grondwet) se agenda van wat veronderstel was om hul finale vergadering te wees, geplaas.
Lotriet sê dat hierdie poging om die staat die toesighouer van grond te maak, sal die grond effektief “nasionaliseer” onder die beheer van die staat – ’n rampspoedige stap wat sal lei tot ekonomiese verwoesting en toenemende armoede.
Lande soos Venezuela en Zimbabwe dra reeds die vernietigende gevolge van soortgelyke beleide.
Wat sake vererger is die ANC/EFF se voortdurende pogings om die howe van hul rol in beslissings oor onteiening te ontneem of dit tot die minimum te beperk.
Vanweë die teenstand teen hierdie voorstel in die ad hoc-komitee, het die ANC / EFF nou die komitee se lewensduur verleng en sal ’n finale verslag, wat die voorstel van die staat as toesighouer oor grond sal insluit, eers teen 31 Augustus gelewer word.
“Die DA sal als in die stryd werp om dit te voorkom, aangesien dit Suid-Afrika oor die afgrond sal stuur, wat die bietjie wat oor is van ons ekonomie sal vernietig deur beleggings af te skrik, groeivooruitsigte te vernietig en miljoene mense tot uiterste armoede te dryf.”
Aangesien die ANC/EFF vasbeslote is om hierdie kwessie voor die 2021 plaaslike verkiesing te dryf, sal die DA geen steen onaangeraak laat om hulle in hul spore te stuit en ons Grondwet en die Handves van Regte te beskerm nie.
Ons glo dat hierdie blatante magsmisbruik deur die ANC/EFF strook met hul vasbeslotenheid dat die party die staat beheer en dat die staat die hele samelewing moet beheer. Hul pogings om voogdyskap af te dwing en die howe te omseil is niks anders as ’n belangrike stap in die ANC se droom van ’n totalitêre bestel – van meet af die ANC se doel in terme van sy Leninistiese doelwit van ’n “Nasionale Demokratiese Revolusie”.
Die verklaring sluit af deur te sê dat die DA nie sal toekyk hoe ons land nog ’n mislukte staat word nie. Elke Suid-Afrikaner verdien ’n ordentlike opvoeding, die geleentheid om werk te kry en om suksesvol te wees in die lewe. Hierdie poging van die ANC/EFF sal egter al hierdie vooruitsigte uitroei.
“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie noodlottige voorstel te verwerp.”