VF Plus: Heffing op huishoudings om SAUK te befonds onaanvaarbaar
In reaksie op ‘n voorstel wat onlangs op die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gemaak is dat elke huishouding in die land ‘n heffing moet betaal om die SAUK te befonds, het die leier van die VF Plus, dr Pieter Groenewald gesê dat dit oneties en onaanvaarbaar is.
Luidens ‘n berig in die Sunday Times is op die NUK vergadering gesê dit word as ‘n gegewe aanvaar dat elke huishouding ‘n TV het en ‘n heffing moet betaal word, ongeag wat mense op hul TV kyk.
Groenewald sê dat deur regstellende aksie word onbevoegde kader-aanstellings gedoen en die uitsaaier se topbestuur word buitensporige salarisse betaal terwyl die uitsaaier dit nie kan bekostig nie.
In 2015/16 reeds het die toenmalige hoof-operasionele bestuurder van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, ‘n salaris van R4,197 miljoen ontvang terwyl die SAUK daardie jaar ‘n verlies van R411 miljoen getoon het.
Die topbestuur van die SAUK, bestaande uit agt mense, se salarisse beloop tans R31,278 miljoen, ‘n gemiddeld van R3,9 miljoen per jaar.
Hierdie vermorsing en onbevoegdheid het die SAUK laat bankrot speel en nou wil die ANC-regering hê die publiek moet daarvoor betaal.
Die VF Plus wil dit duidelik stel dat hy dit ten sterkste sal teenstaan. Belastingbetalers is reeds oorbelas en kan nie verder belas word vir die vergrype van die ANC-regering nie.
Hierdie is ook ‘n gevaarlike beginsel, want die regering kan op dieselfde grondslag besluit om die een of ander vorm van huishoudelike belasting te hef om ander staatsinstellings soos Eskom te finansier.
“Daar kan nie van die Suid-Afrikaanse publiek verwag word om hierdie bykomende juk te dra om die ANC se onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie te finansier nie”, het Groenewald afgesluit.