Byna ’n Jaar van inperking: Wat kan Ramaphosa hiervoor wys?
Ramaphosa se aankondiging tydens sy gesprek met die nasie van gisteraand, Maandag 14 Desember het een saak sterk na vore laat tree naamlik dat Suid-Afrika se uitbreiding van gesondheidsdienste steeds nie sterk genoeg en ontwikkeld is om die Covid-19 pandemie die hoof te bied, nieteenstaande die beloftes en redes wat aangevoer is vir die strengste inperking-regulasies in die wêreld nege maande gelede.
“Boonop het Suid-Afrika nie nodig om sy eie span op te bou om ’n entstof teen Covid-19 te ontwikkel nie, ons het ’n president nodig om ’n datum aan te kondig wanneer die middels wat wyd beskikbaar is ingevoer sal word om die bevolking te beskerm.”
Dit was die reaksie van die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), John Steenhuisen, na gisteraand se aankondiging dat baie van die land se strande en openbare parke vir gedeeltes of in die geheel van die Feestyd gesluit sa wees.
“Hierdie aankondiging druis loodreg in teen die aanbevelings wat deur mediese kenners soos dr. Angelique Coetzee en professor Salim Abdool Karim gemaak is en boonop onmoontlik gaan wees om toe te pas.”
“Hierdie beperkings”, sê Steenhuisen, is irrasioneel en gaan vernietigend vir die gasvryheid- en toerisme industrieë wees. Uiteindelik gaan dit die nekslag vir die kus-ekonomieë beteken en nog meer leed vir die kusgemeenskappe beteken.
Hy sê verder dat almal saamstem dat elke individu persoonlik verantwoordelik is om te verseker dat die virus nie verder versprei nie.
Die strenger aandklokreëls gaan kontantvloei probleme by talle besighede regoor die land veroorsaak en mens moet jouself vra wat Suid-Afrika gedurende die bykans ’n jaar van inperking bereik het.
Gedurende Mei het president Ramaphosa gesê: “We have used the time during lockdown to build up an extensive public health response and prepare our health system for the anticipated surge in infections.”
Na bykans ’n jaar van inperking is ons ekonomie afgetakel, sowat die helfte van kleinsake-ondernemings moes hul deure sluit en is armoede op miljoene mense afgedwing. Suid-Afrika verkeer ook in geen beter posisie om die aanslag van Covid-19 af te weer nie.
Steenhuisen sê dat Suid-Afrika se gesondheidstelsel het onder die addisionele gewig van die pandemie, wat deur die ANC se aanhoudende diefstal oor dekades heen veroorsaak is, in duie gestort.
Hierdie diefstal het verhoed dat hospitale gebou word en verpleegpersoneel opgelei word om ’n pandemie soos hierdie die hoof te bied.
“Gedurende Maart vanjaar het Suid-Afrikaners ’n ooreenkoms met Ramaphosa aangegaan om die pandemie saam met die regering te beveg. Ongelukkig het die president nagelaat om sy deel van die ooreenkom na te kom.”
“Ons het die regering ’n kans gebied maar die vertroue is geskend. Dit gaan moeilik wees om die virus vas te vat hiersonder,” het Steenhuisen afgesluit.