Grapmakers prikkel die lagspiere
Die Grapmakers met die twee uitstekende akteurs, Michelle Botha en Neels van Jaarsveld wat die grappe op mekaar laat rol het, het goed daarin geslaag om die gehoor se lagspiere te laat werk tydens hulle optrede in die KunsteGrot op Thabazimbi Donderdag 19 November.
Die twee muse, wie se werk dit is om die mense op Aarde aan die lag te kry met hulle grappe, is reeds van die begin van tyd in hul vergete kantoor. Hulle hanteer die humor afdeling maar dinge lyk nie goed vir hulle nie en hulle kan nie op dreef kom nie.
Die mensdom is nie meer oopkop genoeg om humor te verstaan, te aanvaar en te waardeer nie. Hulle kry nie eintlik werklike steun meer vanaf Zeus en Olimpia nie en sou hulle hul werk verloor, verdwyn hulle in die universele swart gat van depressie en hopeloosheid.
Om boonop uit te vind dat hulle nie net daar is om humor aan die mensdom te verskaf nie, bring daai swart gat van depressie nog nader.
Buiten nuwe grappe het hul selfs teruggeslaan na Jan Spies en Tolla van der Merwe vir inspirasie met selfs ’n tweespraak uit Lipstick Dipstick tot groot vermaak van die hele gehoor.
Wat Afrikaanse humor aan betref sal die twee muse beslis altyd werk hê en ook keer dat ten minste nie die totale mensdom in die donker gat van depressie sal beland nie.
Hierdie vertoning sluit dan ook die jaarprogram vir optredes by die KunsteGrot af.
Personeel van Medhof Apteek van links: Nicky, Danie, Letta, Cathy en Anna. medhof Apteek is een van die jarelange borge van die KunsteGrot. Marthie van Medhof, regs, saam met haar suster Helena Tala van Medhof Apteek saam met haar man Paul. Bertie Joubert Eiendomme se personeel, gades en vriende het saam na die KunsteGrot oopgetrek vir die Grapmakers. Op die foto is van links Tom, Louise, Antionette en Casper. Maretha en Helize van Bertie Joubert Eiendomme saam met Glen van Rooyen. Rita saam met die twee muse van die Grapmakers, Michelle Botha en Neels van Jaarsveld. Sekerlik twee van Suid-Afrika se beste akteurs vir komedie. Vriende en families het ’n groot poging aangewend om lekker voor en na die toneel saam te kuier met lekker eetgoed en so ietsie vir die keel. Op die foto is van links: Welita Birch, Heleen Brits, Daleen Jacobs, Anita van Staden, Hendrik van Staden, Kobus Jacobs, Suzanne Brits en Lisa van Staden.
Die eerste vertoning vir volgende jaar by die KunsteGrot is op 30 Januarie wanneer Chris Else vir lekker musiek gaan sorg, gevolg deur Mathys Roets op 13 Maart, Doringdraadduwwels op 17 April en Ruhan du Toit op 3 Junie.
Heelwat eerste besoekers aan die KunsteGrot het die aand meegemaak. Vertel gerus vir julle vriende hoe lekker gesellig daar gekuier is en die meelewende toneel wat die gehoor betrek het.
Maak seker dat jy nie weer ’n vertoning by die KunsteGrot misloop nie.